’n Paartjie is verlede Donderdag (3 Februarie) in ’n optrede deur lede van die misdaadintelligensie-eenheid, die Breederivier-K9-eenheid, die Boland-blitspatrollie en provinsiale verkeersbeamptes, in hegtenis geneem.
Volgens AO Vatishwa Jacobs, die Worcester-polisie se woordvoerder, het die spanne ’n wenk ontvang wat tot die inhegtenisneming van twee verdagtes gelei het. Die polisie het die verdagtes betrap terwyl hulle meer as R1,4 miljoen se dwelms op die N1 naby Worcester vervoer het.
Jacobs sê die spanne het gereageer op inligting oor ’n Toyota-voertuig wat met ’n besending dwelms op die N1-hoofweg gery het. Die Valke se ondersoekspan vir ernstige georganiseerde misdaad in Kaapstad is om hulp ontbied.
“Die genoemde voertuig is gemonitor en is op die N1 tussen De Doorns en Worcester opgespoor en deur K9-lede voorgekeer. Die voertuig is toe na die Worcester-polisiekantoor begelei, waar ’n soektog uitgevoer is wat gelei het tot die opsporing van 40 000 Mandrax-tablette ter waarde van sowat R1,4 miljoen. Die dwelms is in ’n vals kompartement gevind,” verduidelik Jacobs.
Twee verdagtes, ’n man en ’n vrou van onderskeidelik 52 en 54 jaar oud, is in hegtenis geneem.
Die polisie het op die voertuig en dwelms vir verdere ondersoek beslag gelê.
Die egpaar het Vrydag 4 Februarie en weer gister (Woensdag 9 Februarie) in die Worcester-landdroshof verskyn.




