Rugbyhonger-ondersteuners het Saterdag 5 Februarie na Esselenpark-sportterein gestroom om hul geliefde spanne Young Hamiltons en Delicious (Ceres) in aksie te sien.
Ondersteuners van die besoekers het al van 12:00 af by die stadion begin aankom om betyds vir die stryd te wees.
Teen 15:30 was die stadion gepak met net minder as die toegelate 2 000 toeskouers.
Die twee eerste spanne het ook nie teleurgestel nie en is luidkeels aangemoedig.
Delicious ruik eerste bloed toe Shane Karelse in die eerste vyf minute oorgegaan het en die losskakel JP Geldenhuys die drie verdoel het vir ’n 7-0-voorsprong.
Net hierna bars Hammies-kaptein Danwill Lukas met brute krag oor ná volgehoue druk deur die agtal. Hammies se hantering was in die eerste 15 minute baie swak en het ook tot ’n drie deur regtervleuel Ashley Franse gelei nadat die bal laat val is en deurgeskop word. Geldenhuys misluk egter met die doelskop. Met Delicious 12-7 voor slaan regtervleuel Selwin White onmiddellik toe nadat Hammies die afskop bemeester en die agterlyn gevoer het en White oorgaan met Steyn wat verdoel om die tuisspan met 14-12 te laat voorloop. Net voor rustyd het die linkervleuel Reyaaz Pietersen vir Hammies oorgegaan en met Steyn wat oorskop loop Hammies nou 21-12 voor.
Delicious het in beseringstyd in die eerste helfte nog ’n drie gedruk toe sy skrumskakel die tuisspan aan die slaap betrap het en oorgegaan nadat ’n strafskop aan die besoekers toegeken is en Geldenhuys die drie verdoel het om die rustydtelling op 21-19 te staan te bring.
Net ná rustyd gaan Hammies se oopkantflank John Williams oor en met die plaasvervangerlosskakel Luciano Truter wat verdoel het, loop Hammies verder met 28-19 voor.
Verdere drieë vir Hammies word deur Ushwin Hatting, Francois Mampa en Lester Mariema gedruk en deur Truter verdoel om die eindtelling op 49-26 te staan te bring nadat die Delicious-losskakel JP Geldenhuys ’n troosdrie in die doodsnikke gedruk en self verdoel het.. Hammies B wen 14-12 terwyl die C-span met 48-12 baas was. Hammies reis Saterdag (12 Februarie) na Robertson om teen Rangers Robertson kragte te meet. Busse vertrek om 12:00 van Esselen Tavern.


