WORCESTER – Ná ’n gesamentlike intelligensie gedrewe operasie deur provinsiale polisiebeamptes, die Worcester teenbende-eenheid, asook ’n private sekuriteitsmaatskappy is agt verdagtes tussen 21 en 36 jaar agter tralies nadat ’n groot hoeveelheid Mandrax gevind is, sowel as ’n ongelisensieerde vuurwapen, ammunisie asook ander gesteelde artikels.
Die vuurwapen is ook verlede jaar gebruik in ’n aanval op ’n satelliet-polisiekantoor in Kraaifontein.
Dit kom nadat daar gister (7 Februarie) inligting deur die polisie ontvang is oor onwettige dwelmbedrywighede by ’n huis in Zwelethemba, Worcester. Daar is verder vasgestel dat mense in besit van onwettige vuurwapens uit Kaapstad na die verdagte perseel in ’n wit Toyota Quantum onderweg was.
By verdere ondersoek is ’n grys Mazda 3, wat deur een van die verdagtes bestuur is, op die N1 van Kaapstad in die rigting van Worcester opgemerk. Die voertuig is deur die polisiebeamptes voorgekeer en deursoek, maar geen onwettige goedere is gevind nie.
Die verdagte is toe deur die polisie na sy woning in Zwelethemba geneem waar nog twee mans op die perseel gevind en deursoek is. Daar is twee Mandrax-tablette en ses halwe Mandrax-tablette in hul besit gevind.
Die polisie het verder die perseel deursoek en ’n stel sleutels gevind van ’n stoor agter die verdagte se huis. Toe die stoor deursoek is, is 790 Mandrax-tablette gevind wat in ’n yskas en wasmasjien versteek was, asook ’n nagemaakte vuurwapen.
By verdere ondersoek is kommunikasie op die verdagte se selfoon onderskep wat bevestig het dat die Kaapstad-verdagtes in ’n Toyota Quantum-minibus op pad was na Worcester en hulle by die Shell-garage sou ontmoet.
Die verdagte Toyota Quantum is suksesvol deur polisiebeamptes geïdentifiseer en deursoek waartydens ’n Z88- 9 mm-pistool met 15 patrone gevind is. Ná verdere ondersoek is vasgestel dat die vuurwapen in November ná ’n aanval op ’n polisie-satellietstasie in Bloekombos, Kraaifontein, as gesteel aangemeld is.
Vyf verdagtes tussen 24 en 36 jaar is in hegtenis geneem weens die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Al die verdagtes is by die Worcester-polisiekantoor aangehou vir verdere ondersoek. Hulle sal in die Worcester-landdroshof verskyn sodra hulle aangekla word.



