Inwoners van Rouxpark in Worcester was die getuies van ’n chaotiese en gevaarlike gebeurtenis toe ’n bus Sondagaand (6 November) deur ’n onbekende voertuig op die N1 voorgekeer is.
’n Bus vol passasiers wat van Kaapstad na Zimbabwe gereis het, is omstreeks 21:30 Sondagaand deur ’n silwer Mercedes-Benz Kompressor by die verkeerslig op die N1, wat na Rouxpark indraai, voorgekeer.
Die voertuig het ses insittendes gehad, almal van Zimbabwiese afkoms. ’n Ander swart Mercedes-Benz-motor het ’n meter vanaf die silwer voertuig gestaan. Albei het Kaapstad-registrasienommers gehad.
Een van die insittendes van die silwer voertuig het uitgeklim en ’n vuurwapen uitgehaal om geld by die busbestuurder te eis. Hulle wou ook die bus se sleutels gehad het.
“Lede van die polisie en veiligheidswagte het dadelik onraad vermoed en die toneel genader. Die verdagtes in die twee motors het die vlaktes in gehardloop en lede van die plaaslike polisie en veiligheidsdienste sowel as inwoners van die omgewing het die verdagtes agternagesit,” het AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie aan Standard verduidelik.
Die buurt se plaaslike WhatsApp-groep het ook inwoners bewus gemaak die van situasie wat in die buurt afspeel en talle bespiegelinge is gedeel.
Die polisie het die verdagtes, wat te voet gevlug het, agternagesit en vyf van hulle enkele minute later gevang.
Al vyf verdagtes is in hegtenis geneem en aangekla van roof met ’n vuurwapen en afdreiging.
Hulle het op 9 November in die Worcester-landdroshof verskyn.
Teen druktyd was dit nog nie bekend wat in die hof afgespeel het nie.
Niemand is in die voorval beseer nie.




