Hierdie Mandrax-pille is verlede Woensdag deur die polisie onderskep. Foto:

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

Vier mense is die afgelope week in verband met die vervoer en besit van dwelms in hegtenis geneem.

In albei gevalle is die verdagtes met Mandrax-pille betrap. Die eerste voorval het op Woensdag 6 September plaasgevind nadat lede van die teenbende-eenheid om 19:30 inligting oor ’n dwelmtransaksie ontvang het.

“Die teenbende-eenheid het inligting ontvang dat die transaksie by die Mountain Mill-winkelsentrum sou plaasvind, asook watter soort voertuig betrokke sou wees. Toe hulle die voertuig sien en probeer nader gaan het, het die motor weggery. Hulle het dit agternagesit en die voertuig uiteindelik in Hoogstraat vasgekeer. Die motor is deursoek en 1 045 heel Mandrax-pille is in ’n deurskynende sak gevind,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.

Albei insittendes van die motor is in hegtenis geneem.

In die tweede voorval is Mandrax met ’n geraamde straatwaarde van R3 miljoen op die N1 by Worcester versteek in ’n motor se bagasiebak gevind. Die inhegtenisneming was ’n resultaat van ’n gesamentlike optrede deur die Valke se Suid-Afrikaanse Narkotiese Handhawingsburo-span, die Boland-honde-eenheid en misdaadintelligensie.

“Die eenhede het dwelms, wat van Gauteng na Kaapstad vervoer word, strategies onderskep,” verduidelik die Valke-woordvoerder, AO Zinzi Hani.

Hulle het die optrede op die N1 uitgevoer waar hulle ’n verdagte voertuig opgemerk het.

“Die spanlede het, nadat hulle ’n wenk oor die dwelmhandel ontvang het, ’n aksie op die N1 by Worcester uitgevoer, waarin hulle ’n verdagte motor uitgeken het. Die voertuig is voorgekeer en tydens deursoeking is vermeende dwelms in die bagasiebak versteek gevind. Altesaam 60 000 pille en 61 pakkies Mandrax – alles met ’n geraamde straatwaarde van R3 miljoen – is gevind,” het Hani gesê.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 46 en 48 jaar oud, het Woensdag 13 September in die Worcester-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article