Op 14-jarige ouderdom is Mardie Fourie ‘n gesoute deelnemer aan hondeskoue en die hantering van honde. Mardie is sedert ‘n jong ouderdom aan hondeskoue blootgestel, want haar ma, Heleen, is al baie jare betrokke by die skou en teel van honde.
Mardie het aanvanklik in die hanteerder-afdeling vir kinders meegeding, maar sedert sy 12 jaar oud is, ding sy met groot sukses in die afdeling vir junior hanteerders mee. By die vyf skoue waaraan sy tussen 28 Februarie en 9 Maart deelgeneem het, het Mardie nie net uitstekend gevaar nie, maar ook twee eerste plekke, twee tweede plekke en ‘n derde plek behaal en ook aan die pas afgelope Kennel-unie van Suid- Afrika (Kusa) se nasionale kampioenskap deelgeneem.
Mardie en Coco, haar spanjoel, neem gereeld in die jaghond-afdeling (gun dog) deel. Hoewel sy baie in die jaghond-ring is, help sy ook ander mense om hul honde, soos labradors, golden retrievers en selfs al ‘n Deense hond, te skou. Tydens die onlangse Kusa-kampioenskap-naweek het Mardie vier verskillende honde op ‘n dag geskou. Dit was nie in die junior hanteerder-afdeling nie, maar in die ras-skou, waar sy ander mense se honde vir hulle skou.
Die twee Junior Showmanship-kampe wat Mardie bygewoon het, het haar geleer hoe om te skou en hoe om verskillende honde te hanteer. Sy kry ook dikwels raad van ervare skouers.
Buiten die skou van honde het Mardie, ‘n graad 9-leerder aan die HTS Drostdy in Worcester, heelwat ander belangstellings ook. Sy speel hokkie, doen baldans en speel trompet in HTS se koperblaasorkes.
In vakansies hou Mardie daarvan om saam met haar pa, Barendo, op hul plaas buite Caledon met skape en ander diere te werk. Met haar passie vir diere is dit duidelik dat Mardie ná skool met diere sal wil werk, maar sy is nog nie heeltemal seker in watter spesifieke rigting nie.
Op ‘n vraag aan Heleen of Mardie ‘n bietjie van ‘n tomboy is, lag Heleen en sê: “Nee, glad nie. Sy kan heeldag in waterstewels in die kraal werk en dan die aand ‘n aandrok aantrek vir ‘n uitvoering van die blaasorkes.” – Mitzi Buys





