Die deure van ‘n splinternuwe museum is onlangs op een van die Breedevallei se oudste plase geopen.
Die Buffelskraal-museum is op die gelyknamige plaas in die Hexvallei gevestig – die eerste museum vir die gebied. Die plaas se 300-jarige bestaan en die opening van die museum is Vrydag 23 Mei gevier.
Chris Rabie, die eienaar van die historiese Buffelskraal, het jare gelede reeds met die idee vorendag gekom. Hy het in 2012 na dr. Julian Kritzinger uitgereik om die geskiedenis te help navors. Saam het die twee die staaltjies en stories van die plaas uit die aktekantoor, stamboekregisters en die dagboeke van ou reisigers ontrafel.
Anthony Hill, die sestiende eienaar van die “Clovelly-gedeelte” van Buffelskraal, het groot bydraes gelewer om die geskiedenisprentjie te voltooi.
Die museum vertel die storie van die plaas met foto’s en borde waarop die inligting verskyn.
Gedurende die navorsing is vasgestel dat die plaas reeds 18 verskillende eienaars van ses verskillende families, wat op die Rabie-gedeelte van die plaas gewoon het, gehad het. “Hierdie ses families het so onder mekaar getrou dat hulle almal – met die uitsondering van een familie – aan mekaar verwant was. Oor die loop van 300 jaar het die Rabie-gedeelte van die plaas interessant genoeg net twee keer met verkooptransaksies van eienaar verwissel – verder was al die verwisselings deur die erfreg, soos wat die plaas van die een geslag na die volgende oorgedra is,” het Kritzinger vertel.
Hierdie navorsing het gelei tot die druk van ‘n pragtige glansboek van 62 bladsye, getiteld Rabie-familiegeskiedenis – Buffelskraal, Hexvallei.
Die plaas het sy oorsprong gehad toe die eerste weidingslisensie in 1725 aan Pieter Willem Nel toegeken is. Hy was die enigste plaaseienaar wat nie ‘n familieverband met die latere eienaars gehad het nie. In 1727 is die plaas deur die goewerneur Pieter Gysbert Noodt as weidingplaas aan Pieter Hugot van Drakenstein toegeken. Dit was vermoedelik Hugot wat die historiese pionierswoning op die “Clovelly-gedeelte” van die plaas gebou het. Die Hugo-familie het tot in 1771 hier gewoon met vier verskillende eienaars in hierdie tydperk. Die laaste Hugo-weduwee is later met Wouter de Vos Senior getroud, waarna die De Vos-familie tot in 1861 op die plaas gewoon het.
In daardie tydperk was daar vyf verskillende De Vos-eienaars. Die statige woonhuis op die Rabie-gedeelte van Buffelskraal is tussen 1817 en 1834 gebou.
Jan Willem Meiring en sy neef JanGeorge Meiring het die oorspronklike Buffelskraal in 1860 op ‘n veiling van Dirk de Vos vir die enorme bedrag van £6 000 gekoop. Die neefs het tot in 1897 op die plaas gewoon en dit in twee verdeel. Aangesien Jan George Meiring met ‘n De Vos-vrou getroud was, het die plaas steeds in die familie gebly.
Die Rabie-era het in 1897 aangebreek toe Johannes Christiaan Rabie III, wie se ma ‘n De Vos van Buffelskraal was, die “Rabie-gedeelte” op die veiling van die bestorwe boedel van Jan Willem Meiring koop. Daar was vier Rabie-eienaars tydens die eerste periode.
In 1989 het die huidige eienaar, Chris Rabie, wat uit die “Buffelskraal-Wes”-vertakking stam, die laaste Rabie van die Buffelskraalvertakking uitgekoop. Dit het beteken dat hy die sewentiende eienaar van Buffelskraal is. Sy seun, Jan Rabie IV, sal eendag die agtiende eienaar van die plaas word.
Die inligtingsborde by die museum gee baie meer inligting oor die families en die plaas se geskiedenis.
• Belangstellendes wat na die uitstalling wil gaan kyk, kan Chris Rabie by 023 356 3200 bel.






