Hamiltons RVK het verlede Saterdag ‘n taai 34-30-oorwinning teen ‘n vurige Touwpark-span op Hammiespark behaal.
Hammies moes met ‘n rustyd-voorsprong van 24-12 danksy drieë deur Shaurick Blom, Ussiel Langeveldt en Damian Hopley diep delf toe Touwpark in die tweede helfte teruggeveg het.
Touwpark het die gaping na 24-19 verklein en selfs ‘n 31-27-voorsprong ná ‘n bonusdrie gehad. Hammies het egter nuwe lewe gekry toe Langeveldt sy tweede onderskepdrie druk.
Twee strafdoele het Touwpark met 31-30 weer hoop gegee, maar ‘n strafskop deur Luciano Truter (plaasvervanger-losskakel) het vir Hammies die oorwinning verseël.
Hammies se B-span het 31-03 gewen terwyl die C-span 57-10 geseëvier het.
Hamiltons RVK speel Saterdag teen Villagers Worcester in ‘n wegwedstryd wat beloof om ‘n reuse-kragmeting te wees. In ander wedstryde in die Grootuitdaag-kompetisie van die Langeberg-afdeling speel die Montagu-klub Saterdag tuis teen die voorlopers, Robertson Town, terwyl Swellendam tuisveld-voordeel teen Blue Birds van Bonnievale het. Rawsonville speel tuis teen Ashton United terwyl Rangers tuis teen Mc Gregor speel.
Touwpark speel tuis teen Montagu.
In die Streekuitdaag-kompetisie (Breërivier afdeling), speel Proteas tuis teen Overhex terwyl Worcester Perseverance tuis teen Primrose speel. Mountain Stars ontvang besoek van Laingsburg en Goudini van Orchard. – Luciano du Toit





