Ashwin Leendertz, stut van Touwpark, op een van sy stormlopies.


Die Touwpark-voëltjie het Saterdag (17 Augustus) oor die Overhex- (Stone­heart) stadion gevlieg – hierdie keer nie met ’n goue takkie in sy bekkie nie, maar eerder met vyf punte in sy snawel vir Touwpark.

Die wedstryd is in winderige omstandighede gespeel, maar Touwpark het die toestande goed gelees en Overhex met 31 teenoor 17 oorrompel.

Hierdie bonuspunt- oorwinning het verseker dat Touwpark die Breërivier-Streekuitdaagliga se kroon vir 2024 gaan dra.

Touwpark se slot, Shelton van Willing, het eerste oor- gegaan vir ’n stormram-drie wat Marlique Bailey suksesvol verdoel het.

Overhex het ’n strafskop gekry wat ook deur die pale gejaag is.

Kort hierna het die buitesenter, Dominic van Wyk, vir Touwpark gaan druk. Die haastige vleuel Elzaano Julies het ook vir Touwpark agter die doellyn gaan kuier.

Overhex het op sy beurt ’n onderskep­drie deur sy binnesenter, wat ook sommer self deur hom verdoel is, gedruk (telling 17-10 in Touwpark se guns).

Die Touwpark-vleuel Tyler Willemse het besluit hy is moeg om toeskouer te speel en het met verbysterende vaart gaan druk nadat hy Overhex se verdediging oopgekloof het. Marlique Bailey het seker gemaak met die doelskop (halftydtelling 24-10).

Ná halftyd was dit ’n gesukkel, want Overhex het probleme gehad en met die skeidsregter, Jacobus Pekeur, teëgepraat. Pekeur het die wedstryd gestop en lank met Overhex se spelers gepraat om hul dissipline in orde te kry.

Die wedstryd kon egter nie regtig weer rigting kry nie, maar Overhex het verwoed aangeval en is met ’n drie wat verdoel is, beloon, wat die telling 24-17 in Touwpark se guns gemaak het.

Die wind is effens uit Touwpark se seile gehaal met Overhex se ontwrigtende spel, maar Willemse het ’n los bal opgepik en dwarsdeur genael vir sy tweede drie, wat deur Marlique Bailey verdoel is. Die eindfluitjie het met die telling op 31-17 vir Touwpark geblaas.

Touwpark se tweedes het 15-10 gewen.

Saterdag geniet Touwpark tuisveldvoordeel teen Moun­tain Stars. Kaartjies is te koop by Touwsrivier-drankwinkel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article