In sy eerste ligawedstryd van die 2023-rugbyseisoen het Primrose-rugbyklub lelik vasgeval toe Touwpark hom Saterdag 1 April op sy tuisveld met 35 punte tenoor 10 geklop het.
Op ’n pragtige Saterdagmiddag het die twee spanne mekaar die stryd aangesê. Touwpark begin die wedstryd en Primrose ontvang en kry onmiddellik ’n strafskop toe Touwpark oortree. Hy soek die kantlyn op, Touwpark wen die lynstaan, maar Primrose neem dit af en val aan. Hy vorder tot binne Touwpark se kwartgebied, waar Touwpark weer ’n strafskop kry en skop die bal uit.
Die twee spanne gee mekaar geen ruimte nie, en wys al vroeg waarnatoe hulle in staat is. Ná nog ’n lynstaan kry Touwpark weer ’n strafskop, maar sy poging is onsuksesvol.
Ná die inskop kry Touwpark weer die bal en stuur sy agterlyn weg, sy vleuel kry die bal en hardloop pragtig langs die kantlyn af vir sy drie. Die moeilike doelskop slaag en bring die telling na 7-0 in die guns van Touwpark.
Touwpark begin toe met aanval op aanval en Primrose moes sy keer ken. En met aanhoudende druk gaan druk hy nog ’n verdoelde drie. Die telling is nou 14-0 vir Touwpark.
Ná die afskop kry Primrose die bal in hande, maar hy kry egter ’n strafskop. Sy senter, Bruwayne Lukas, maak seker met die skop pale toe en bring die telling na 14-3. Primrose begin nou ook sy aanvalle en stuur ook sy agterlyn weg en ook sy vleuel Bertim Ruiters gaan druk ook ’n drie wat nie verdoel is nie, wat die telling 14-10 maak.
Maar toe is dit Touwpark wat weer die druk laat oplaai en gaan druk het. Die rustydtelling was 21-10 in Touwpark se guns.
Vir de laaste 40 minute skop Primrose af. Touwpark ontvang en begin weer hardloop, sy voorspelers speel pragtig saam en besorg die bal aan sy agterlyn wat veld op hardloop en gaan druk nog ’n verdoelde drie. Nou staan die telling op 28-10. Touwpark draai nou behoorlik die krane oop met sy gevaarlike agterlyn en Primrose moet keer vir ’n vale. Die kere dat Primrose die bal kry en aanval, laat hanteerwerk hom in die steek.
Ná nog ’n inskop deur Primrose val Touwpark weer aan en met aansporing van sy ondersteuners speel hy nou pragtige rugby. Primrose kry egter weer die bal en begin aanval, maar Touwpark onderskep die bal en gaan druk onder die pale.
Die doelskop is suksesvol en bring die telling na 35-10 wat ook die eindtelling was.

