Primrose moes Saterdag 27 April op Touwsrivier in sy eie agterplaas ’n tornado in die gesig staar toe die Touwpark hulle met 55 punte teenoor 15 oorskadu het.

Touwpark teken die eerste punte aan, danksy ’n strafskop, en die telbord lees 3-0 vir Touwpark.

Maar ná die afskop oortree Touwpark egter, maar Primrose verbrou die skop pale toe. Ná aanhoudende druk kry Primrose nog ’n strafskop. Hierdie keer maak die losskakel, Natan Louwe, geen fout nie.

Maar dis Touwpark wat nou sy staal toon en uitstekende rugby speel. Hulle dwing Primrose om foute te maak. So kry hulle nog ’n strafskop wat suksesvol is en die telling is 6-3 vir Touwpark.

Primrose begin nou moedig terugveg, maar tevergeefs. Touwpark se vleuel kry die bal, klop sy verdediging, en gaan druk onder die pale.

Die doelskop slaag en die telling teen rustyd is 13-3 vir Touwpark.

Met die begin van die tweede helfte skop Primrose af met ’n sterk reënbui wat neerstort en ’n bietjie lafenis vir die spelers bring.

Weer loods Touwpark sy aanvalle, een ná die ander, maar dis die Primrose-vleuel Oswaldt Scholtz wat die bal in die hande kry toe Touwpark ’n fout maak en ’n onverdoelde drie gaan druk. Die telling is nou 13-8 vir Touwpark.

Toe begin die vuurwerke behoorlik, waarvoor Primrose geen antwoorde kon verskaf nie.

Met versterkings vanaf die bank van Touwpark, word agt spelers tegelykertyd op die veld gestuur. Sy voorspelers speel pragtig saam, en sy agterlyn doen die res. Die drieë volg die een en ná die ander.

Die telling is 34-8 vir Touwpark totdat Primrose se Brandon Klein sy drie gaan druk en Nathan Louw dit verdoel het. Die telling is nou 34-15 vir Touwpark.

Dit was ’n plesier om te sien hoe die vlugvoetige Touwpark die bal lug gee en mekaar ondersteun.

In verskillende stadiums was die telling 42-15, toe 48-15 en later 55-15 vir Touwpark, waartydens Primrose geen punte kon aanteken nie.

Watter fantastiese hardlooprugby was dit nie in die laaste 40 minute nie! Eindtelling was 55-15 vir Touwpark.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article