Dis nou al amper vier maande wat hulle ongemak verduur en geen privaatheid het nie.
So sê Anna Sass (64) van die plaas Van Loveren. Sass is deel van vyf huisgesinne wat sedert Mei vanjaar as gevolg van die verwoestende reën- en windstorm in ‘n ou skoolsaal – sowat ‘n kilometer vanwaar hul oorspronklike wonings is – gehuisves word nadat hul wonings erge skade in die storms gely het.
Van Loveren is langs die R317-streekspad in die Breedevallei tussen Robertson en Bonnievale.
“Hier is bejaardes en kinders. Die jongste kind is maar twee jaar oud. Hulle is besig om vir ons behuising te kry, maar dit neem nog tyd. Ons huisies is so beskadig dat ons nie meer daarin kon woon nie. Mure het losgekom en die huises is vol sand en modder. Die ander gesinne wie se huise beskadig is, woon by familie.”
Volgens haar het hulle geen privaatheid in die skoolsaal nie. Sass sê hulle het net een wasbak wat almal deel.
“Van ons maak sommer vir ons water warm, gooi dit in ‘n emmertjie en was ons in die toilet. Dis koud in die saal. “Ons weet nie of hulle vir ons nuwe huise bou nie. Hulle het nie gesê hoe lank ons in die saal gaan bly nie.”
Past. Nicolaas Burger, ‘n gemeenskapsleier, sê sowat 30 mense word tans in die saal gehuisves. Hy sê dis onveilig daar omdat daar geen beligting en omheining is nie.
Hein Otto, ‘n praktiserende prokureur vir Otto Theron Prokureurs, wat namens Van Loveren Vineyards (Edms) Bpk en die nege geraakte huishoudings optree, sê die strukturele skade aan plaashuise op Van Loveren is van so aard dat bewoning ‘n onaanvaarbare risiko vir die veiligheid van die inwoners inhou.
Van Loveren bly bereid om, binne sy vermoë, met die staatsorgane saam te werk om ‘n werkbare oplossing te implementeer.



