Jannie Wildskut was vir jarelank ‘n skeidsregter vir Boland-rugbyunie.

Die skietdood van Jannie Wildskut (40) en sy vriendin, Alvina Robyn (35), albei van De Doorns, het verlede week skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

In hierdie tragiese voorval blyk dit dat Wildskut, ook bekend as “Jango”, vooraf video-opnames gemaak het waarin hy vertel dat hy homself om die lewe probeer bring. In die laaste van vier video’s kan gesien word hoe ‘n vrou in ‘n pienk kamerjas, vermoedelik Robyn, in ‘n plas bloed lê. Dit kon nie bevestig word hoe die video’s versprei is nie.

Die hartseer gebeure het verlede Dinsdag (16 September) kort voor middernag in ‘n huis in Suncitystraat in Sunnyside Orchard in De Doorns afgespeel.

In die eerste video’s, wat wyd op sosiale media versprei is, staan Wildskut met ‘n swart tou om sy nek en praat met die kamera. Hy is sigbaar emosioneel. In ‘n volgende video drink hy iets uit ‘n pienk maatbeker, met ‘n oop vyfliter-kan waarvan die etiket nie gesien kan word nie, by sy voete. “Die tou het gebreek,” sê hy.

In ‘n derde video sê hy: “Tou het nie gewerk nie, gif het nie gewerk nie, maar ek dink nie dat ‘n bullet sal misluk nie” en “Ek was nog nooit so lief gewees vir iemand nie”.

‘nGoeie skeidsregter

In die laaste video waar die vrou, vermoedelik Robyn, op die grond lê, is nog mense by. Wildskut swets voordat hy wegloop. Hy het homself vermoedelik daarna geskiet.

Volgens kapt. F.C. van Wyk, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het hulle die paartjie by hul aankoms dood aangetref. ‘n Girson-9-mm-pistool is op die toneel gekry.

‘n Saak van moord is geopen en ‘n geregtelike doodsondersoek sal gedoen word. Die omstandighede om die voorval word ondersoek, sê hy.

Alvina Robyn en Jannie Wildskut

Wildskut was ‘n Boland-rugby-skeidsregter en is deur spelers as ‘n “goeie, opregte en eerlike skeidsregter” beskryf.

Lyndon Julius, die bestuurder van skeidsregters by die Boland-rugbyunie, sê Wildskut was langer as tien jaar ‘n toegewyde lid van die Boland Skeidsregtersvereniging en het veral diens gedoen in die Breederivier- en Langebergstreek, waar hy ook pligte in die Streekuitdaagbeker verrig het.

“Hy sal onthou word as ‘n lewendige, gesellige en leerbare skeidsregter, wat altyd bereid was om by te dra tot die spel en gemeenskap van rugby. Sy teenwoordigheid op en langs die veld sal deur almal wat hom geken het, gemis word,” sê Julius.

‘Hy het ‘n keuse gehad’

“Ons betuig ook ons innige meegevoel aan die familie en vriende van Alvina. Haar lewe en nalatenskap word deur baie mense hoog geag en ons dra haar familie in hierdie tyd van rou in ons gedagtes en gebede.”

Alvina Robyn
Alvina Robyn is doodgeskiet.

Anchen Spogter, wat die egpaar ge- ken het, skryf in ‘n roerende plasing op Facebook: “Hy het ‘n keuse gehad. Selfs al was daar ontrouheid, kon hy weggestap het. Maar hy het … geweld gekies. Hy het gekies om haar lewe te neem . . . en sy eie. Hy het selfs die wreedheid gehad om ‘n video te neem terwyl sy daar lê, leweloos in haar eie bloed. Dit is nie liefde nie. Dit was obsessie. Dit was selfsugtigheid. Geestesgesondheid is ‘n realiteit. As jy sukkel, kry hulp voordat jy lewens verwoes. Wiena (Alvina) het beter verdien. Haar kinders het beter verdien. Nou moet hulle sonder hul moeder grootword as gevolg van een man se keuses.”

Sy het gesê twee gesinne is gebroke gelaat ná hierdie tragedie.

• Die Standard Breederivier Gazette het na beide Wildskut en Robyn se families uitgereik. Hulle wou nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie.

• Die Suid-Afrikaanse Depressie en Angsgroep (SADAG) verskaf ‘n nood-lyn vir diegene wat oorweldig of depressief voel. Skakel 0800 567 567 of besoek hul webwerf by www.sadag.org indien hulp benodig word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article