Ligas onder die vaandel van die Boland-rugbyunie staan nou vinnig einde se kant toe. In die Breë- en Langeberg-afdeling is dit geen uitsondering nie, met veral die topspanne wat desperaat aan hul posisies vasklou, terwyl die agterosse nou met hul alles inkom om hul posisies op die onderskeie puntelere te probeer verbeter.

In die Grootuitdaag-afdeling van die Langeberg-kompetisie reis die voorlopers, Robertson Town, Saterdag (9 Augustus) na Rawsonville waar hulle op Hoffiepark die onvoorspelbare Rawsonville United die stryd aansê.

Young Hamiltons, of Hammies, kom ná sy sege teen die naasvoorlopers, Worcester Villagers (of Villa), teen McGregor op laasgenoemde se tuisveld te staan.

Villa speel ook op sy tuisveld, Bolandpark, teen Montagu Klub (Hou by die blou).

Die ander Montaguspan, Villagers Montagu (Sesduim), speel op die King Edward-stadion in Montagu teen Ashton United.

Rangers Robertson (Never Die), speel op die Van Zylstraatstadion in Robertson teen die Blue Birds van Bonnievale, terwyl Swellendam tuisveld-voordeel op die Powellstadion in sy tuisdorp teen Touwpark van Touwsrivier sal geniet.

In die Streekuitdaag-kompetisie (Breërivier-afdeling) geniet Proteas (Prouks) ook tuisveld-voordeel in sy wedstryd teen Goudini.

Klipdrift geniet ook tuisveld-voordeel teen Overhex, terwyl Mountain Stars op sy tuisveld teen Villagers Breërivier te staan kom.

Worcester Perseverance (Persies) ontvang op sy beurt besoek van Laingsburg.

Die voorlopers, Alberts, asook Primroses, De Doorns United en Orchard, geniet almal hierdie naweek ‘n welverdiende en welkome blaaskans. – Alver Uys

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article