‘n Fees wag op musiekliefhebbers in die Boland!
Die bekende Kaapstadse Filharmoniese Orkes tree op Sondag 14 September by die Oos-kerk,Van Zylstraat, in Robertson op. Die orkes, wat bestaan uit 55 professionele musikante, gaan ‘n verskeidenheid gewilde klassieke stukke speel met die tema Musiek vir Almal.
Die konsert word aangebied deur Eseltjiesrus-donkieskuiling en beklemtoon die wonder van musiek om mense bymekaar te bring in hierdie uitdagende tye wat almal in die gesig staar.
Die orkes se vorige besoek in 2023 was ‘n groot sukses en daar word verwag dat die kaartjies vanjaar weer blitsig gaan verkoop. Bespreek daarom vroegtydig om ‘n sitplek te verseker. Kaartjies is by die toerismekantore in Montagu, Robertson en McGregor beskikbaar, sowel as by Eseltjiesrus net buite McGregor.
In Worcester is kaartjies te kry by dr. Gerhard de Wet se veeartseny-spreekkamers by Durbanstraat 51. ‘n Verdere opsie vir kaartjie-aankope is aanlyn by adopt@donkeysanctuary.co.za. Om seker te maak dat soveel mense moontlik hierdie merkwaardige konsert kan geniet, is daar ‘n geborgde kaart- jieskema. Kaartjies sal aan kinderhuise, ouetehuise, plaaslike orkeste, blinde mense, kore en musiekstudente verskaf word.
Diegene wat dit nie self kan bywoon nie, kan bydraes maak tot geborgde kaartjies, deur e-pos te stuur na adopt@donkeysanctuary.co.za.
Kaartjies kos slegs R180 vir volwassenes en net R90 vir studente.
Geniet Musiek vir almal en help om ‘n positiewe impak te maak vir mense en donkies! Alle opbrengste sal die baie noodsaaklike donkiewelsynwerk van Eseltjiesrus ondersteun.





