Altesaam 25 paartjies het die afgelope feestyd hul bondeltjies vreugde by distrikshospitale in die Kaapse Wynland verwelkom.
Volgens Sandra Maritz, kommunikasiebeampte van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement se Kaapse Wynland-distrik, is 12 babas op Kersdag gebore en 13 op Nuwejaarsdag.
“Baie geluk aan die ouers, en dankie aan gesondheidswerkers vir hul rol in hierdie spesiale oomblikke. Maak seker dat babas en jong kinders hul inentings kry soos aangedui in hul Road to Health-boekie sodat hul groei en ontwikkeling ’n hupstoot kan kry,” voeg Maritz by.
Maritz voer aan dat te midde van die erge hitte wat die afgelope tyd in die Kaapse Wynland beleef word, word ouers en versorgers daaraan herinner om jong kinders meer gereeld te voed om ontwatering te voorkom. Sy noem dat tussen November en Mei word jong kinders gereeld weens diarree na klinieke of hospitale geneem.
“Help jong kinders om gesond te bly deur hul gereeld vloeistowwe te gee, hulle in die koelte te laat speel en dadelik mediese hulp te kry as daar bloed in hul stoelgang is, as hul borskaste induik, as hulle alles opbring of nie wil eet soos voorheen nie,” sê Maritz.




