Een van die NSRI se pienk reddingsboeie. Foto: NSRI


’n Barmhartige samaritaan en ’n NSRI-vrywilliger het Saterdagmiddag in Langebaan twee mense met die hulp van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se pienk reddingsboeie gered.

Die NSRI se Pienk Reddingsbooi-inisiatief is ’n baanbrekersinisiatief wat sedert 2017 gebruik word om verdrinkings te voorkom en het die Internasionale Maritieme Reddingsfederasie-prys vir vernuwende denke en tegnologie in 2018 gewen.

Saterdag se suksesvolle redding omstreeks 15:00 by Paradise Beach in Langebaan het weer bewys hoe nuttig en noodsaaklik die pienk reddingsboeie is wat op strategiese plekke naby swemplekke geplaas is.

Mike Shaw, NSRI Mykonos se stasiebevelvoerder, sê die pienk reddingsboeie het gewis ’n onvervangbare rol gespeel in die redding van die twee swemmers, wat op die snikhete dag gaan afkoel en in die moeilikheid beland het. Die redding is grootliks ook te danke aan ’n wakker barmhartige samaritaan en ’n NSRI-vrywilliger wat ten tyde van die voorval nie aan diens was nie. Hierdie held en heldin het op hul voete gedink en die pienk reddingsboeie gebruik om die swemmers te help.

Volgens Shaw is ’n ouer vrou terselfdertyd op ’n lyfplank deur ’n sterk seestroom meegesleur. Hy sê die vrou het aan die lyfplank vasgehou en net soos in die geval van die pienk reddingsboeie het hierdie drywende hulpmiddel haar bo die water gehou totdat sy hulp gekry het.

Volgens die NSRI is die reddingsboeie helder pienk sodat hulle maklik raakgesien kan word. Elke pienk reddingsboei word op ’n paal saam met bordjies geplaas wat wys hoe om dit te gebruik, asook die NSRI se noodnommer en die boei se unieke identifikasienommer, wat reddingsdienste help om die plek van die noodgeval te identifiseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article