Leonie Smith, ’n gesondheidsvoorligter, het onlangs groepe swanger vroue en vroue met babas praktiese leiding oor borsvoeding gegee. Borsvoeding is nie net die ideale voeding vir babas nie, maar dit is die perfekte temperatuur, gratis en is ’n spesiale geleentheid vir ma’s en babas om ’n band te vorm.


Ouers, voogde, kinderoppassers en alle volwassenes moet kinders se welstand van jongs af eerste stel. As almal saamwerk, kan die kommerwekkende prentjie oor kindergesondheid in die Kaapse Wynland verander word.

Volgens die jongste verslag oor die invloed van die diarree-seisoen op kinders vyf jaar en jonger (1 Nov. 2021 – 31 Mei 2022) kry kinders van die Kaapse Wynland nie voldoende voeding nie, hul inentings is nie op datum nie, hul groei word nie gemonitor nie en volwassenes reageer nie altyd vinnig genoeg op die gevaartekens van diarree-siekte nie.

Die diarree-seisoen is sinoniem met diarree-siekte en akute wanvoeding. Wanneer ’n jonger kind diarree opdoen (’n loopmagie) en nie vinnig gehelp word nie, kan die kind ontwater en sterf. Kinders wat aan wanvoeding ly, word in diarree-tyd selfs swaarder getref.

Kinders se immuunstelsels ontwikkel nog, en wanneer ’n kind diarree-siekte het of aan akute wanvoeding ly, kan hulle maklik ander siektes soos longontsteking opdoen.

In vergelyking met vorige jare se data dui die verslag op:
. ’n skerp toename in die aantal kinders wat weens diarree-siekte in die hospitaal opgeneem word – in al die gebiede behalwe die Breedevallei;. ’n skerp styging in die aantal kinders wat longontsteking opgedoen het;. ’n skerp styging in die aantal kinders wat weens longontsteking in die hospitaal opgeneem is en gesterf het ;. ’n skerp toename in die aantal kinders wat by klinieke en “daghospitale” weens ernstige akute wanvoeding behandel is; vier van dié kinders het weens akute wanvoeding gesterf.

Wat dit nog meer kommerwekkend maak, is dat sewe kinders in hierdie tydperk dood is voordat vir mediese hulp uitgereik is. Die gemiddelde ouderdomme van kinders wat wel in die hospitaal opgeneem is, maar dood is, was tussen 18 dae en 17 maande.

“Ons monitor kinders se gesondheid fyn en gee deurlopend inligting en ondersteuning aan ma’s en gesinne. Omdat ons dit fyn monitor, weet ons waarop om in sekere gebiede te fokus, en ons kan ons strategie vinnig aanpas,” sê Adriane Petersen, ’n dieetkundige van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid.

Buiten goeie voeding word volwassenes gevra om:
. swangerskappe te beplan – gebruik voorbehoedmiddels totdat jy gereed is om ’n baba te hê;. kinders kliniek toe te neem vir vitamiene en inentings – dit is gratis;. kinders op ses, tien en 14 weke ná geboorte en op nege en 18 maande te laat inent, en opvolginentings op 6 en 12 jaar te laat ondergaan (meisies moet ook op negejarige ouderdom ingeënt word).

Die verslag het egter ook goeie nuus bevat, waarvoor die departement sy personeel en die onderskeie gemeenskappe bedank.

Die proaktiewe optrede van gesondheidswerkers het in veral die Breedevallei daartoe gelei dat meer volwassenes bewus was van diarree-siekte se simptome, en daarom het meer kinders vinnig hulp gekry.

Minder kinders het dus ernstig siek geword, en minder kinders is weens ontwatering in die hospitaal opgeneem.

In die Langeberg was gesondheidswerkers bedag daarop dat gemeenskappe baie gegroei het en baie kinders nie vir gesondheidsorg geneem word nie. Personeel het proaktief opleiding ontvang sodat gevalle van wanvoeding vinniger geïdentifiseer en behandel kon word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article