Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en vennote help ouers deur die jaar om kinders se gesondheid ’n hupstoot te gee, maar vra dat ouers en versorgers vinnig oorgaan tot aksie as jong kinders diarree kry.
Indien jou kind diarree (’n loopmaag of los stoelgang) het, of braak, moet jy gou sorg dat hy meer vloeistowwe inneem. Indien die kind nie vinnig beter word nie, of as jy gevaartekens opmerk, moet jy die kind dadelik na die kliniek of hospitaal neem.
Hoe kan jy help?. Voorkom diarree deur jou en jou kinders se hande gereeld te was. Hou ook oppervlaktes in jou kombuis skoon deur warm water en seep te gebruik.. Indien jou kind ’n loopmaag kry of braak, moet jy keer dat jou kind ontwater. Maak só: Kook ’n liter water en laat dit afkoel. Meng dit met agt teelepels suiker en ’n halwe teelepel sout. Gee gereeld slukkies hiervan vir jou kind.. Indien die kind die oplossing uitbraak, wag vyf minute en gee weer klein slukkies op ’n keer.. Let op na die gevaartekens! Kry dadelik mediese hulp as daar bloed in die stoelgang / doek is, as die kind vlak of vinnig asemhaal, as die kind nie wil eet nie of alles opbring, en as jou kind in die niet in staar en nie op en wakker soos altyd is nie.
“Omdat kinders se lyfies klein is, het diarree ’n groot impak op hul liggame elke keer as hulle ’n loopmaag het of braak. Jy moet góú die vloeistof in hul liggame aanvul deur die suiker-en-sout-oplossing vir hulle te gee,” sê sr. Roenell Balie, wat deel is van die span van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement wat kindergesondheidsdienste in die Wes-Kaap en Kaapse Wynland koördineer.
Met die hulp van nie-regeringsorganisasies hou die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement bewusmakingsveldtogte rakende diarree. Bottels en pakkies met die droë bestanddele wat jy moet meng om te drink om ontwatering te voorkom, word ook in gemeenskappe uitgedeel.
“Onthou, dis maklik om dit self tuis te maak. Moenie net staatmaak op die pakkies wat uitgedeel word nie,” sê Balie. “Jong kinders wat gereeld ingeënt is kan diarree makliker afweer,” vertel sy.




