Met die oggendson se goud in sy mond, het ’n hartverskeurende gebeurtenis hom in die Lottering-familie van Wolseley se woning afgespeel wat hulle familie verpletter, in skok en in ’n diep hartseer en rou gelaat het.

Dit is ’n kort kykie agter die skerms van die hartseer gebeure na aanleiding van die afsterwe van Cornelius Lottering, Wyk 2-raadslid van Wolseley, wat op 2 Februarie in die vroeë oggendure skielik in sy woning aan ’n hartaanval oorlede is. Die gebeure in sy woning ten aanskoue van sy vrou en een van sy seuns, Wayne, het ’n diep seer gelaat.

Die Lottering-gesin het nie net ’n pa, ’n gesinsman en steunpilaar verloor nie, maar ook ’n man wat baie liefdevol teenoor sy gemeenskap was. Neels, soos Lottering onder almal bekend was, was die tipiese alleman-mens en kon maklik met enigeen oor die weg kom. Sy pragtige gesindheid en sin vir humor was aansteeklik, sy woorde was altyd reguit en met kennis gekleur, terwyl sy menswees ’n lieflike geur nagelaat het. Sy beskeie manier van dinge doen en hoe hy mense tot hulp kon wees wanneer probleme opgeduik het, en die positiewe resultate, het baie se hart verbly.

Die leemte wat Neels se dood in sy familie gelaat het, sal ook in die gemeenskap en sy kollegas in die munisipale raad waarin hy gedien het, sowel as al die instansies waarvan hy deel was of waar hy gedien het, gevoel word. Medelye van oral het ingestroom om hierdie hartseer familie te ondersteun.

Wat sport betref, het Neels ook ’n groot invloed gehad – veral op krieket. As legendariese lid van die Wolseley-krieketklub was hy ’n jare lange lid van die klub waar hy ook jare as voorsitter gedien het. Een van sy hoogtepunte, soos sy seuns vertel, was toe hy saam met hulle – Colin, Wayne en Adrian – in een span vir Wolseley teen Mamre gespeel het en waar “die oukêrel”, toe al diep in die vyftig, ’n netjiese 75 lopies geslaan het – iets wat hulle vir jare nog sal koester.

Musiek was ook deel van Neels se leefwyse en hy was ’n jare lange lid van die Wolseley-Kerskoor. Ook hier het Neels skouer aan skouer met sy seuns verskeie musiekinstrumente bespeel en Wolseley se naam hoog gehou. Sy dood sal ook hier ’n groot leemte laat, wat moeilik gevul sal word.

Neels sal gewis gemis word, maar sal in baie ander, met wie sy paaie gekruis het, se hart bly voortbestaan.

Die Lottering-familie en die gemeenskap van Wolseley dank hul skepper vir die jare lange lig wat Neels in hul lewe laat skyn het.

Wyle raadslid Lottering se begrafnisreëlings is as volg:

Die begrafnisdiens word Saterdag (12 Februarie) om 09:00 by die huis (Beverdersingel 23) gehou, en om 10:00 by die NG kerk in die dorp.

Rouklaers word vriendelik versoek om alle Covid-19-maatreëls na te kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article