Die Langeberg beleef tans van sy warmste maande in die somer, en met hierdie hoë temperature is dit belangrik om kinders se gesondheid in ag te neem.

Volgens Sandra Maritz, die kommunikasiebeampte van die Kaapse Wynland se departement van gesondheid, is dit vir ouers van belang om diarree of ontwatering in kinders te voorkom deur die volgende stappe te volg:

. Was altyd hande voordat kos voorberei word.

. Leer jou kinders om ook hul hande met seep te was voordat hulle eet.

. Laat kos heeltemal afkoel voordat jy dit in die yskas bêre, en maak dit behoorlik warm wanneer jy weer daarvan wil eet.

. Hou jou kombuisoppervlaktes so skoon as moontlik.

. Maak seker dat kinders gereeld vloeistowwe inneem.

. Borsvoed jou baba meer gereeld wanneer dit baie warm is.

. Neem jou kind na die naaste kliniek sodat hulle die roetine-inentings en -aanvullings kry. Hierdie immuniserings en aanvullings beskerm kinders teen toestande wat hulle ernstig siek kan maak.

. Indien jou kind ’n loopmaag het, maak ’n suiker-en-sout-oplossing aan. Kook ’n liter water en laat dit afkoel. Voeg dan agt teelepels suiker en ’n halwe teelepel sout by. Meng hierdie mengsel goed en gee gereeld vir jou kind slukkies hiervan. As jou kind nie tekens van genesing toon nie, en styftrekkings ry, vlak asem haal, bloed in stoelgang het of braak, moet jy mediese hulp inroep. Gaan dan na jou naaste kliniek of hospitaal, of bel die ambulans by 10177.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article