Worcester Victorians het Saterdag 22 Januarie op Esselenpark teen Robertson III te staan gekom.
Die span van Robertson is eerste ingestuur om in die verskriklike hitte te gaan kolf.
Robertson se kolwers kon nie die boulaanval van Victorians hanteer nie en is almal terug kleedkamer toe gestuur vir ’n skamele 73 lopies in 29 boulbeurte en slegs een kolwer van Robertson het dubbelsyfers behaal.
Die manne wat die paaltjies vir Viccies laat kantel het, was Lorenzo Wildskut (drie vir 17 lopies in 4.5 boulbeurte), Derrick Solomons (twee vir 15 lopies in agt boulbeurte), Brandon Ceasar (een vir 12 in ses boulbeurte) en Alreec Conradie (een vir sewe lopies in 4.1 boulbeurte).
Victorians het hierna gaan kolf en die lopies in slegs 20.3 boulbeurte gemoker. Branwin “Bizza” Samuels het 19 lopies aangeteken, en Leighton Davids het op 16 lopies nie uit nie geëindig.
Victorians het 76 vir die verlies van vier paaltjies aangeteken, wat hom ’n oorwinning van ses paaltjies besorg het.
Vir Robertson het PJ van Niekerk twee paaltjies vir 27 lopies in 10 boulbeurte geneem.
Met hierdie oorwinning het Victorians die seisoen onoorwonne afgesluit en die 50-boulbeurte-kompetisie in die eerste liga gewen.
Victorians wag nou op Boland om te hoor teen wie hy uitspeel om na ’n hoër liga op te skuif. Met die taktiese afrigter Granville Fortuin kan die manne van Viccies gewis enige span in hul liga laat les opsê.
Die T20-kompetisie begin dié naweek en Victorians reis na De Doorns.


