KEIMOES – Verskeie klaers van Keimoes eis streng optrede teen openbare dronkenskap, oop vure op sypaadjies, geraas en roekelose bestuur wat nou gedurende naweke by die Keimoes-hotel plaasvind.
Dié wetteloosheid en ernstige veiligheidsrisiko’s is op ‘n punt waar dringende ingryping ter wille van die gemeenskap nodig is, sê die klaers.
Dié historiese en opsigtelike landmerk in die hoofstraat, waarlangs die N14-roete strek en waarvan toeriste daagliks gebruik maak, is nagenoeg ‘n eeu in bedryf en is in Desember uit ‘n bestorwe boedel verkoop.
‘n Formele klag is ingedien en ‘n versoek om dringende ingryping is gerig aan die !Kai !Garib-munisipaliteit en ander betrokke owerhede deur AfriForum se Keimoes-tak, ondernemings en gemeenskapslede in die omgewing van die hotel.
Klagtes sluit onder meer in:
- luidrugtige musiek, geskree en wangedrag tot in die vroeë oggendure;
- openbare alkoholgebruik op sypaadjies en in die straat;
- roekelose en nalatige bestuur in die omgewing van die hotel;
- onwettige parkering wat toegang na huise en ondernemings versper;
- gebreekte bottels en vullis in die straat;
- oop vure wat gemaak word om by te braai;
- openbare dronkenskap, gevegte en intimidasie van inwoners; en
- onwettige kosstalletjies.
“Dit is duidelik dat verskeie fasette van wetgewing oortree word − wetgewing wat veronderstel is om inwoners van Keimoes te beskerm teen dit wat nou plaasvind,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.
Die misdrywe hou ernstige risiko’s vir gemeenskapslede se veiligheid in en verhoog die moontlikheid vir beserings en selfs sterftes. Voorts beïnvloed dit ook die waarde van eiendomme in die omgewing en rig skade aan die plaaslike ekonomie aan.
Volgens die klaers behoort die Noord-Kaapse Drankraad ook die hotel se dranklisensie en nakomingsvoorwaardes te hersien.
Bykomende vullisdromme moet in die omgewing van die hotel geplaas word, eis hulle; onwettige kosstalletjies moet verwyder word en oop vure op die sypaadjies moet verbied word.
‘n Gesamentlike vergadering tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), munisipaliteit en die Noord-Kaapse Drankraad word versoek om saam oplossings vir hierdie probleme te bekom.
Strauss sê AfriForum sal die drankraad, asook die departemente van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, gesondheid, en samewerkende regering, menslike ndersettings en tradisionele sake van dié probleme in kennis stel, sou die munisipaliteit sy verantwoordelikhede versaak.
“Die situasie is reeds ‘n krisis en inwoners, asook ondernemings, se reg op ‘n veilige, gesonde en ordelike omgewing word daagliks geskend. Ons gaan nie toelaat dat wetteloosheid in die gemeenskap oorheers nie,” sê Strauss.



