Die Christelike Private Skool Malmesbury (CPM), met leerders van oral oor die Weskus, het die afgelope Saterdag (11 April) sy 23ste Wintersportdag aangebied – ‘n hoogtepunt op die plaaslike sportkalender waar jeugsport en gemeenskapsgees hand aan hand gaan.
Die dag is deur die skoolhoof, Waldo Cloete, geopen. Hy het die waarde van sport in ‘n gesonde, ondersteunende omgewing beklemtoon.
Altesaam 12 skole van reg oor die provinsie het deelgeneem, met spanne van onder meer Vredendal, Riebeek-Kasteel, Paarl, Citrusdal en Langebaan.
Sowat 1 200 leerders was in 51 rugbyspanne en 67 netbalspanne op die veld. CPM se o.9- en o.10-netbalspanne asook die o.9A-rugbyspan het besonder goed gevaar en onoorwonne afgesluit.
Langs die veld het ‘n lewendige kermisatmosfeer geheers, met kosstalletjies, wat alles van pannekoek tot boereworsrolle en pizza te koop aangebied het.
Die dag is ondersteun deur verskeie plaaslike borge, wie se bydraes dit moontlik gemaak het.
Met die afsluiting van die dag het CPM weer bewys dat hy nie net sporttalent ontwikkel nie, maar ook ‘n ruimte skep waar sportmanskap, vriendskap en gemeenskap sentraal staan.





