Dr. Helena Heydenreich, spesialis in onderwyswelstand en opvoedkundige leierskap en gebaseer in Vredenburg, het onlangs internasionale erkenning ontvang vir haar navorsing oor onderwyser-uitbranding en sistemiese herstel.
Haar eweknie- beoordeelde hoofstuk, The Missing Link in Burnout Research: Teacher Wellness and Systemic Recovery across Six Continents, is onlangs deur IntechOpen gepubliseer en ondersoek die globale omvang van die uitbranding van onderwysers op ses vastelande.
Volgens Heydenreich beteken die erkenning baie. “Nie net as ‘n professionele mylpaal nie, maar as bevestiging dat hierdie gesprek nodig is en dat dit op ‘n akademiese vlak ernstig opgeneem word. Die aanvaarding van my navorsing het aan my bevestig hierdie werk lewer ‘n werklike bydrae tot die bestaande kennisveld. Wat vir my besonder betekenisvol was, is erkenning vir die relevansie en diepte van die navorsing in ‘n veld waar steeds relatief min geïntegreerde, sistemiese werk van hierdie aard bestaan.”
Op ‘n persoonlike vlak is dit ook ‘n bevestiging van ‘n pad wat nie altyd maklik was nie. Hierdie navorsing is nie net akademies nie, dit is gewortel in werklike ervaring en die behoefte om ‘n verskil te maak.
“Professioneel is my grootste fokus egter dat hierdie werk nie by akademia bly nie, dit moet praktiese waarde hê; dit moet skole bereik; onderwysers ondersteun; uiteindelik bydra tot werklike verandering in hoe ons oor welstand en onderwys dink.”

Heydenreich se fokus op onderwyser-uitbranding het nie by teorie begin nie, maar by individue. “Ek het oor jare gesien hoe toegewyde, bekwame onderwysers stadig begin moeg raak, emosioneel afgetakel word en uiteindelik hul passie vir onderwys verloor.”, Die Weskus is vir haar persoonlik betekenisvol. “Dit is ‘n gemeenskap waar baie skole met beperkte hulpbronne werk, maar waar ongelooflike passie en toewyding tot voortgesette leer heers. Juis daarom maak dit my bekommerd wanneer daardie toewyding onder druk begin verbrokkel.”
Haar werk is dus nie net akademies nie, dit is ‘n reaksie op iets wat sy persoonlik ervaar het. Sy glo een van die grootste redes waarom die probleem ontstaan, is uitbranding, wat dikwels verkeerd verstaan word.
“Dit word gesien as ‘n individuele swakheid eerder as ‘n sistemiese probleem. Onderwysers voel ook hul stemme word nie gehoor nie en van hulle word verwag om doodeenvoudig voort te gaan, sonder oplossings of betekenisvolle gesprekke om die uitdagings in skole werklik aan te durf.
“Onderwysers is gewoond daaraan om voort te gaan in ‘n stelsel wat meer vra as wat dit gee; om sterk te wees en nie te kla nie. Dit skep ‘n kultuur van stilte.”
Heydenrych se studie wys baie duidelik dat onderwysers se uitbranding nie deur een enkele faktor veroorsaak word nie, maar deur ‘n voortdurende opeenhoping van druk, wat oor tyd onhanteerbaar raak.
“Dit begin by die werklikheid van die klaskamer. Onderwysers staan daagliks voor toenemende gedragsuitdagings., van dissipline-probleme, geweld en ontwrigte leeromgewings tot die hantering van leerders met komplekse emosionele en leerbehoeftes, dikwels sonder voldoende ondersteuning.”
Die kern van die probleem lê egter dieper. “Baie onderwysers ervaar ‘n gebrek aan emosionele en professionele ondersteuning en ‘n groeiende gevoel dat hulle min beheer oor hul eie werksomgewing het. Hulle moet aanhou funksioneer in ‘n stelsel waar die eise voortdurend toeneem, maar die ondersteuning nie daarmee saam groei nie.
“Wanneer hierdie druk oor tyd toeneem, raak dit nie net die werkslading nie – dit begin die onderwyser self raak, hul identiteit, hul sin vir betekenis en uiteindelik hul vermoë om steeds met energie, geduld en ‘n glimlag voor die leerders te staan. Hulle verwag om dinamies, betrokke en emosioneel beskikbaar te wees – selfs wanneer hulle innerlik uitgeput is. Dit is hoekom uitbranding nie net ‘n werksprobleem is nie, maar ‘n menslike krisis in ‘n stelsel wat vir te lank nie by die huidige werklikhede binne skole aangepas het nie.”
Wanneer ‘n onderwyser uitgebrand is, verander iets fundamenteel.
“Die energie, kreatiwiteit en emosionele betrokkenheid, wat goeie onderrig dryf, begin afneem. Dit beteken nie dat onderwysers nie meer omgee nie, inteendeel. Maar baie funksioneer in oorlewingsmodus.
“Hulle is voortdurend gespanne, emosioneel uitgeput en onder druk om aan te hou presteer.”
Oor die onderwysers wat tans uitgebrand voel, meen Heydenrych hulle faal glad nie. “Wat jy ervaar, is nie ‘n teken van swakheid nie, maar ‘n reaksie op ‘n stelsel wat baie van jou vra. Wat jy doen, het steeds waarde – selfs al voel dit nie altyd so nie. Maar dit is ook belangrik om te besef dat jy nie hierdie pad alleen hoef te stap nie. Begin deur met mekaar te praat.”






You must be logged in to post a comment.