ST HELENABAAI – ‘n Nuwe kombuis en uitgebreide voedingsondersteuning gaan verseker dat leerders van die St. Helenabaai Primêre Skool in die Laingville-woonbuurt in dié Weskusdorp voortaan daagliks ‘n voedsame ontbyt én middagete ontvang.
Die Peninsula School Feeding Association (PSFA), in vennootskap met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), die Tiger Brands Foundation (TBF) en Breadline Africa, het vanoggend (21 Oktober) dié broodnodige en welkome voedings-ondersteuningsprogram by die skool bekendgestel. ‘n Nuwe kombuis is ook onthul.
Die samewerkings-inisiatief van die vier vennote versterk toegang tot voedsame maaltye vir die skool se 1 114 leerders.

Danksy die WKOD se Nasionale Skoolvoedingsprogram (NSVP) ontvang 446 leerders, wat 40% van die skool se totale leerdertal verteenwoordig, daagliks middagetes. Die PSFA voorsien daagliks middagetes aan ’n verdere 668 leerders en dek sodoende die oorblywende 60% van die skool se leerders.
Tiger Brands Foundation voorsien daagliks ontbyt aan al 1 114 leerders, wat help verseker dat hulle skooldag met ‘n maaltyd begin. Die nuwe kombuis, wat deur Breadline Africa en die Tiger Brands Foundation geborg is, bied ‘n noodsaaklike infrastruktuur vir die voorbereiding van maaltye vir die skoolgemeenskap.
Petrina Pakoe, direkteur van die PSFA, sê die vennootskap toon wat bereik kan word wanneer organisasies saamwerk om ‘n gemeenskaplike doelwit te verwesenlik.
“Wanneer kinders toegang tot voedsame maaltye het, is hulle in staat om beter in die klaskamer te konsentreer, aktief aan hul opvoeding deel te neem en hul volle potensiaal te bereik. Hierdie vennootskap is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe samewerking ‘n betekenisvolle verskil in leerders se lewens kan maak.
“Deur saam met die WKOD, die Tiger Brands Foundation en Breadline Africa te werk, help ons verseker dat alle leerders by die St. Helenabaai Primêre-skool daagliks ontbyt én middagete ontvang. Die nuwe kombuis is ’n belangrike belegging in die skool en sy leerders, en ons is dankbaar teenoor ons vennote wat dit moontlik gemaak het,” sê Pakoe.
Volgens die vennote beklemtoon die inisiatief die belangrikheid van samewerking tussen die regering, nie-winsgewende organisasies en die private sektor om kinderhonger aan te spreek en onderwys te ondersteun.
“Deur hulpbronne, befondsing en infrastruktuur saam te voeg, help die vennote om ‘n omgewing te skep waarin leerders op hul leerwerk kan fokus en aan ’n beter toekoms kan bou.”
Die Peninsula School Feeding Association is in 1958 gestig en is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat daarop fokus om die gesondheid, welstand en opvoedkundige vooruitsigte van kwesbare leerders deur middel van sy skoolvoedingsprogram te verbeter.
Die PSFA voorsien voedsame maaltye aan leerders by skole en ander opvoedkundige instellings regoor die Wes-Kaap. Die organisasie werk saam met skenkers en vennote om gemeenskappe te bereik waar ondersteuning die nodigste is.
Die skenkings is verwelkom deur Johnnefher Joshua, die skool se waarnemende hoof.
“Ons is opgewonde en dankbaar. Dié skenkings is nie net vir die skool nie. Dit is vir die hele gemeenskap. Inwoners hier trek swaar weens die swak visbedryf en vir baie leerders is dit hulle enigste maaltyd vir die dag.”




You must be logged in to post a comment.