SALDANHA – ‘n Nuwe hoofstuk het Donderdag 8 Oktober vir gasvryheidsleerders by die Weskusskool begin met die amptelike oorhandiging van hul opgeknapte klaskamer, in samewerking met Umoya Energy en Breadline Africa.
Volgens Amber Zeeman, sosiale-prestasiespesialis by Umoya Energy, het leerders voor die opgradering met verouderde toerusting gewerk, “waarvan sommige reeds uit die laat 1900’s dateer”. Dit het hul vermoë beperk om ten volle vir die vereistes van die moderne gasvryheidsbedryf voor te berei.
Zeeman het gesê die projek het ten doel gehad om die klaskamer in ’n funksionele, industriegerigte opleidingsruimte te omskep, met opgedateerde toestelle en ’n verbeterde leeromgewing.

Umoya Energy se betrokkenheid by die skool het voortgespruit uit die maatskappy se deelname aan die Weskus-onderwysdistrik se Belanghebbendebetrokkenheidsforum.
“Deur hierdie strategiese verhoudings en gesprekke met Paula Storm, Hoof van Gespesialiseerde Leerder en Opvoederondersteuning, is die projek geïdentifiseer. Wat Umoya Energy gemotiveer het om betrokke te raak, was die geleentheid om ondersteuning aan ‘n skool vir vaardigheidsontwikkeling te bied, ‘n eerste van sy soort binne Umoya se Sosio-ekonomiese Ontwikkeling-befondsingsportefeulje,” vertel Zeeman.
Die opgradering het ‘n volledige opknapping van die klaskamer se infrastruktuur behels. Dit het onder meer nuwe projektors, oonde, stoofplate en kaste asook verf en teëlwerk ingesluit.
Moderne praktiese werkstasies is ook geïnstalleer en die klaskamer se uitleg en leeromgewing is vernuwe.
Breadline Africa het ’n kontrakteur aangestel wat die projek binne sewe maande voltooi het, teen ’n bedrag van R1,2 miljoen.
Delmarie Engelbrecht, skoolhoof van Weskusskool, beteken hierdie groot gebaar baie vir die skool.
“Aangesien Weskusskool leerders voorberei om direk ná skool die arbeidsmark te betree, skep hierdie nuwe, moderne klasruimte ‘n werklike bedryfsomgewing. Leerders word opgelei met dieselfde gehalte toerusting as wat in professionele restaurante en hotelle gebruik word. Dit gee ‘n massiewe voorsprong en maak ons leerders dadelik indiensneembaar in die plaaslike toerisme-en gasvryheidsektor,” voeg sy by.

Volgens Engelbrecht het die leerders nou toegang tot topgehalte praktiese onderrig én die pragtige klaskamer motiveer hulle om skool toe te kom en hard te werk.
“Wat ons opgewonde maak, is dat die nuwe werkswinkel ook gebruik kan word om funksies aan te bied, etes te verkoop of gemeenskapskursusse in die aande aan te bied om fondse vir die skool te genereer.
“Hierdie werkswinkel is ‘n belegging in die toekoms van ons leerders wat vir hul deure oopmaak na die ekonomie en die vinniggroeiende toerisme en gasvryheidsbedryf in Suid-Afrika.”
LEES OOK: Weskus hoofleiers




You must be logged in to post a comment.