Ongeveer 120 mense het op Saterdag 28 Februarie byeengekom om ou Sandveld-tradisies op die Wolfblei- plaas te vier.
Die byeenkoms is aangebied deur Gerda Pedro, ‘n inwoner van Noordhoek wat ‘n groot passie vir die geskiedenis en tradisies van die streek het. Die dag het begin met ‘n ontbyt, gevolg deur ‘n trekker-en-wa-rit oor die plaas sodat almal die terrein kon verken.
Baie van die gaste is familie en vriende wie se voorouers op die plaas gebly en daar getrou het. Verskeie aktiwiteite het die dag kleurvol gemaak, insluitend langbeensit, stories van die plaas se verlede, mol-ysterstel vir molvang en die geleentheid om kettie te skiet. Volgens Pedro is dit belangrik dat vandag se geslag meer oor die Sandveld-
tradisie leer om hul eie identiteit deur kultuur en tradisie te kan verstaan. Sy meen soedoende kan hulle ook meer respek vir ander kulture en tradisies hê.
Pedro het die Sandveld-tradisie deur haar voorouers leer ken. Sy dra tot vandag die lesse en kennis oor veral wanneer dit by die ou manier van kosmaak kom.
“In daardie jare het ons drie koolblare gebruik om ‘n pot kos te maak, wat ver gestrek het. In vandag se tyd gooi mense net weg. Daar was meer respek vir kos in die ou dae en baie kinders is so gevoed.”
Oor die jare het ‘n paar tradisies verander, maar Pedro meen die beginsels bly steeds dieselfde. Een van die tradisies sluit in die huwelik, waar ‘n troue in net ‘n week se tyd beplan is.
“In daai dae was dit pouvere, safaribroeke en baadjies en die dikste breë belt – een van die aktiwiteite wat ons uitgebeeld het. Ek leef my weer uit in die ou dae en probeer die jongmense aanmoedig om dit verder te neem.”
Gaste het plaaswater geproe, ou resepte gedeel, gemmerbier geniet, en saam gesing en gedans.
Ou klere van die vorige dekades is aangetrek en kinders het die geleentheid gehad om in rolle te speel.
Volgens Pedro was die doel van die dag om die jonger geslag terug te neem na hul geskiedenis sodat die tradisies en stories van die plaas voortgedra kan word





