Die St. Helenabaai Residensiële Sorgfasiliteit vir Persone met Gestremdhede het vandag (12 Oktober) ‘n welkome skenking van beddegoed ontvang.
Die tehuis was voorheen bekend as die Eiland Huis vir Gestremdes. Die naam is verander ná uitgerekte administratiewe probleme en voortslepende regsaksies by die tehuis en die bestuur is onlangs amptelik deur die Siyabonga Huis van Danksegging in Vredenburg oorgeneem en word tans bedryf in vennootskap met die Wes-Kaapse Departemente van Gesondheid en Welstand en Maatskaplike Ontwikkeling.
Die tehuis in die Midwest-woonbuurt in die dorp is ‘n residensiële sorgfasiliteit vir individue met erge geestelike en fisiese gestremdhede.

Dit is in 2005 deur Jimmy Duncan gestig. Hy is in Julie 2024 ná ‘n kort siekbed oorlede.
Die skenking van beddegoed vir die tehuis se vyftien inwoners is deur die Langebaan-daghospitaal in Langebaan moontlik gemaak.
Volgens Susan van Wyk, die hospitaal se bestuurder, behels die skenking ‘n stel beddegoed vir elke bed in die tehuis. “Daar was ‘n werklike behoefte vir beddegoed by die tehuis. Ons kyk altyd waar ons ‘n bydrae kan lewer en sodoende ‘n verskil maak. Die hospitaal beplan ‘n langtermyn-betrokkenheid by die tehuis, wat klere en kosvoorsiening in die toekoms sal insluit.”

Die skenking is deur Suster Maxie Potgieter, die tehuis se koördineerder, verwelkom. “Dit beteken geweldig baie vir die tehuis. Ons is uiters dankbaar vir die mense wat uitreik na die tehuis. Die beddegoed sal ‘n groot verskil maak.
Die betrokkenheid van die gemeenskap is noodsaaklik. Jimmy sou ook vandag baie gelukkig wees.”
Volgens Suster Potgieter is sy baie positief oor die toekoms en is dit verblydend dat die gemeenskap weer betrokke raak by die tehuis.









You must be logged in to post a comment.