LANGEBAAN – “Kunsmatige intelligensie het die intelligensie van ‘n genie en die moraliteit van ‘n spreadsheet.”
Beverley Ann Schäfer, gewese adjunkspeaker van die Wes-Kaapse provinsiale parlement, het sake-eienaars gemaan om versigtig te wees om nie kunsmatige intelligensie (KI) willens en wetens in hul maatskappye in te stel nie.
Sy was die hoofspreker by die Weskus-sakekamer se gala-aand die afgelope Vrydag (17 Julie) by die Shark Bay-hotel in Langebaan.
Schäfer sê hoewel KI enorme produktiwiteitsvoordele inhou, kom dit met ernstige risiko’s wat nie geïgnoreer kan word nie.
“KI is nie net nog ‘n instrument nie. Dit is die ontstaan van ‘n sintetiese ‘gedagte’ wat die arbeidsmark betree. Dit hou beide enorme voordele en ernstige nadele in, en leierskap en etiek bepaal die uitkoms,” sê sy.
Schäfer het voorbeelde gegee van KI se reedsbestaande impak, soos Google wat tans 75% van sy nuwe sagtewarekode deur KI genereer. Sunaka Chai, uitvoerende hoof van Google, het dié statistiek in April 2026 gedeel.
“Dit behoort elke sakeleier in hul spore te laat stilstaan,” sê Schäfer. “Ons het toegang tot hoëvlak kundigheid uit ‘ ’n land van genies’ teen slegs die koste van ‘n rekenaar. Dit kan produktiwiteit dramaties verhoog en nuwe ekonomiese sektore skep.
“Mense hou op die oomblik nog by, maar die moeilike werk, die opstelwerk, die argitektuur, die blote volume van produksie word al meer in die geheel deur masjiene hanteer.”
Sy waarsku dat hierdie aanwins teen beduidende koste kom. Die koste van energie en water wat KI-datasentrums verg, is wêreldwyd ‘n snelgroeiende probleem, met plaaslike gemeenskappe waar dié datasentrums gebou word, in opstand.
Etiese kwessies en arbeidsverskuiwing
Schäfer spreek ernstige kommer oor die etiese implikasies van KI-implementering uit en sê die sakewêreld moet ‘n paar kernbeginsels voor oë hou. Volgens haar moet waarheid altyd bo gerief gestel word, aangesien KI-hallusinasies, onbetroubare antwoorde en ingeboude vooroordeel steeds groot struikelblokke is. Sy waarsku ook dat geen kritieke funksie só volledig geoutomatiseer moet word dat niemand meer weet hoe om dit sonder die tegnologie te verrig nie. Ondernemings moet die vermoë behou om in te gryp wanneer dit nodig is.

Verder sê Schäfer dat KI die bestaande werksmag moet aanvul, eerder as om mense te vervang. Op die lange duur sal heropleiding van werknemers meer waarde bied as onvermydelike afleggings. Sy beklemtoon dat KI as “geleende vertroue” beskou moet word en nie bloot as ‘n bate nie. Empatie, verantwoordelikheid en morele oordeel sal volgens haar altyd menslike eienskappe bly wat nie deur KI vervang kan word nie.
Een van die grootste bedreigings, waarsku sy, is die konsentrasie van mag by die maatskappye wat KI-modelle ontwikkel en die toenemende afhanklikheid van dié tegnologie. Sy verwys na ‘n simulasie waar ‘n KI-model afpersing as strategie gekies het om te voorkom dat ‘n fiktiewe maatskappy die gebruik van KI staak. Dié verskynsel, wanneer KI as ‘n outonome agent onvoorsiene of onetiese optrede kies, staan as “spesifikasie-speletjies” (spec-gaming) bekend.
“ ’n Mens gee die masjien ‘n doelwit, en dit kry wiskundig die doeltreffendste pad om die doelwit te bereik, ongeag menslike moraliteit. Daarmee saam is daar die risiko dat maatskappye morele waardes en verantwoordelikheid uitkontrakteer. Ons kan nooit menslike beheer verloor nie,” beklemtoon Schäfer.
“Ons praat van die outomatisering van kognitiewe take. Die einste take wat die grondslag vorm van die middelklas van die hele wêreld. Wanneer KI vinniger en meer akkuraat as ‘n junior medewerker regskontrakte kan opstel, wat gebeur met die regsfirma se sakemodel?”
Geopolitiek bemoeilik regulasie
Schäfer het ook verwys na die geopolitieke “ruimtewedloop” tussen moondhede wat versnelde KI-ontwikkeling dryf en regulasie bemoeilik.
“Massiewe arbeidsverskuiwing en die moontlike uithol van die kennis-ekonomie is werklike bedreigings. Ons moet dit met omsigtigheid benader,” sê sy.
Volgens Schäfer bied KI ongekende geleenthede, maar ondernemings en sakeleiers moet verseker dat menslike waardes, etiese oorwegings en verantwoordelikheid die rigting van hierdie tegnologie bepaal – nie andersom nie.



