SALDANHA – Die polisie krap steeds kop nadat Ayrton Vraagom (28) Saterdagmiddag 11 Julie in die gesig geskiet is en later aan sy wonde beswyk het. Nog ‘n man is ook in die voorval gewond.
Daar word beweer dat die twee vriende na ‘n rugbywedstryd onderweg was toe die voorval plaasgevind het. Ingeligte bronne vertel dat die twee vriende glo in Harvest Sunstraat gestap het toe ‘n man wat hulle ken, die een na bewering, begin koggel het. Die verdagte het vermoedelik ‘n vuurwapen uitgepluk en een man in die heup gewond.

Die gewonde het weggekom en nog twee skote het gevolg, en Vraagom is noodlottig gewond. Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskuspolisie, ondersoek die Saldanha-polisie klagtes van moord en poging tot moord. Helfrich het bevestig dat geen verdagtes nog in verband met die voorval aangekeer is nie.
Volgens ander betroubare bronne is dit in dié stadium moeilik om te sê of die twee wel op pad na die rugby was, omdat een van hulle vermoedelik ook ‘n vuurwapen gedra het.
Die bronne het aan Weslander gesê daar was wel onlangs ‘n voorval waarby die moontlike verdagte en die oorledene betrokke was.

Daar is gerugte dat die noodlottige skietvoorval moontlik uit ‘n wraakaanval spruit, maar dit kon nie bevestig word nie. Ook nie verdere bewerings dat verskeie skote die volgende dag in die gebied afgevuur is nie.
Volgens ‘n ingeligte in die saak is verskeie verklarings steeds uitstaande en wat die ondersoek verder bemoeilik, is dat die beseerde tans in ‘n Kaapse hospitaal behandel word.
Daar is tans onsekerheid oor presies wie die sneller getrek het. Dít alles veroorsaak vertragings in die inhegtenisneming van die skuldige.





