Selfaangestelde karwagte in Breëstraat, Vredenburg, is ‘n kopseer vir beide besighede én inwoners.
Volgens een inwoner wat gereeld by ondernemings in Breëstraat inkopies doen, is dit irriterend om voortdurend vir geld en kos deur karwagte geteister te word. Sy sê sy voel glad nie gemaklik om in Breëstraat te parkeer nie, maar voel gedwing omdat dit die naaste parkeerplek aan die winkels is.
Sammy Springleer, ‘n inwoner van Vredenburg en lid van die Oudorp-buurtwag, sê daar is die afgelope paar jaar talle klagtes van motoriste, inwoners en ondernemings ontvang oor individue wat as karwagte optree. “Breëstraat is ‘n bedrywige spilpunt wat daagliks deur die publiek gebruik word, soos mense wat onder meer die Sassa-kantore, Roman’s Pizza, PnP Liquor, verskeie banke en ander ondernemings besoek. Ongelukkig het die omgewing toenemend onveilig en ongemaklik vir besoekers geword.”
Hy sê verslae dui daarop dat sommige van die selfverklaarde karwagte by wanordelike en aggressiewe gedrag betrokke is, insluitend die gebruik van vuil taal, intimidasie van motoriste en gereelde konflikte onder mekaar.
“In sekere gevalle het woordewisselings in geweld oorgegaan, met bewerings van aanrandings met messe en ander gevaarlike voorwerpe.
Kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie, het bevestig dat ‘n 15-jarige seun op Dinsdag 27 Januarie om 15:00 in Breëstraat naby Roman’s Pizza met ‘n mes in die long gesteek is. “Na bewering het die slagoffer vir ‘n vriend vertel dat sy aanvaller sy goed gesteel het.”
Volgens Springleer dui voorlopige ondersoeke daarop dat baie geskille ontstaan oor parkeerplekke en kompetisie vir fooitjies, met individue wat eienaarskap van spesifieke parkeerplekke eis. “Rusies oor fooitjies gaan dikwels oor in verbale mishandeling en fisieke konfrontasies. Motoriste wat nie fooitjies gee nie, word na bewering geteister, wat vrees onder besoekers laat toeneem.”
Die buurtwag en plaaslike sakebelanghebbendes doen ‘n beroep om hernude samewerking van alle relevante owerhede om orde te herstel, inwoners en ondernemings te beskerm, en te verseker dat openbare ruimtes veilig en verwelkomend bly. Springleer moedig gemeenskapslede aan om voorvalle aan te meld en saam te werk om respekvolle gedrag in die dorp te bevorder.




