VELDDRIF – Die boodskap dat die beskerming van die kus ‘n gemeenskaplike verantwoordelikheid is, is op Saterdag 19 September hier prakties uitgeleef deur vrywilligers wat 59 sakke rommel op Internasionale Strandopruimingsdag van die strand verwyder het.
Die vrywilligers het by die parkeerterrein van Atlantic Shores bymekaargekom en van daar af langs die strand in die rigting van Soverby Lapa gewerk. Met sakke in die hand het hulle rommel en ander afval opgetel wat langs die kuslyn agtergelaat is.
Die opruimingsaksie was ‘n gesamentlike gemeenskapsinisiatief met die ondersteuning van die Wes-Kaapse regering se Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, die Bergrivier-munisipaliteit, Village Fitness, Remax Velddrif, Property.Co.Za, SWERF, die Gemeenskapsopruimingsinisiatief, Bidvest en CapeNature.
‘n Verteenwoordiger van CapeNature het die deelnemers ook toegespreek oor die belang van bewaring en die beskerming van die kusomgewing.
Die organiseerders het hul besondere waardering uitgespreek teenoor die Weskus-kanoklub, onderwysers, leerders en ouers van Noordhoek Primêr, SWERF, Velddrif River Restaurant en Shipwreck Bar, asook die West Coast Wrestling Club vir hul ondersteuning.
Die opruimingsdag vorm deel van internasionale pogings om mense bewus te maak van die omvang van mariene besoedeling en die invloed wat rommel op die seelewe en kusomgewing het.
Die 59 sakke rommel wat in ‘n betreklik klein gebied versamel is, is ‘n tasbare aanduiding van hoeveel afval langs die kus beland. Dit wys terselfdertyd wat bereik kan word wanneer inwoners, organisasies en plaaslike ondernemings hande vat.
Die opruimingsaksie kom ook op ‘n belangrike tydstip met die feestyd en ‘n toename in besoekers wat om die draai is en groter druk op die omgewing plaas.
Die boodskap is eenvoudig: geniet Velddrif se kus, maar laat dit net so mooi agter as wat jy dit gevind het.





