Die gebeure wat verlede Dinsdag (18 November) in Paternoster afgespeel het, het baie mense diep ontstel. Dit is ‘n oomblik wat aan verskillende kante seergemaak het en dit is belangrik om dit te erken. Dit is waar dat baie van Paternoster se bestaansvissers onder geweldige druk verkeer. Dit is mense wat geslagte lank al uit die see leef. Baie van hulle voel hul plek, hul waardigheid en hul leefwyse word bedreig.
Hierdie seerkry en die gevoel dat die gemeenskap se stories, hul erfenis en hul seerkry nie raakgesien word nie, is werklik en net so deel van Paternoster se storie soos sy poskaartstrande. Daarteenoor staan die traumatiese verjaging van ‘n man en vrou uit hul gastehuis. Daar moet ook empatie met hul hartseer en angs wees.
Weslander se berig en hoofartikel is ongelukkig op sosiale media verdraai, en ‘n beeld is geskep dat ons sou gesê het alle mense van Paternoster is skuldig aan kreefsmokkel of onwettige visvang. Ons wil met respek, duidelikheid en opregtheid sê, dit is eenvoudig nie waar nie. Dit is nie so geskryf nie en dit was nooit die bedoeling nie.
Ons verwysing na onwettige visvang en kreefsmokkel het slegs betrekking gehad op die seegrenseenheid se roetine-optrede dié vorige aand. Ons ag ons plaaslike vissers se stryd en waardigheid as belangrik, soos jare se beriggewing oor Paternoster se kwessies kan getuig. Ons weet baie van Paternoster se mense leef met min, maar wel met trots en eerbaarheid.
Dis maklik om te sê die Weskus se skeiding lê tussen ryk en arm, maar miskien is die diepste skeiding dié van mense wat mekaar nie meer regtig hoor nie. Dít is ‘n gaping wat nie met skuld of vingerwys, of ‘n geskree en gevloek op sosiale media, herstel kan word nie, maar met gesprek, luister en die erkenning dat elke kant se seerkry werklik is.
As plaaslike koerant wil ons nie olie op die vuur gooi nie. Ons daaglikse doel is om te dien, te help verstaan en die menslikheid in elke situasie te sien.
• Ons nooi lesers om vorige hoofartikels soos “Respek, asseblief, inkommers” (Donderdag 6 November) te lees.




