Mumtaz koor sing eg Afrikaanse liedjies. Foto’s: Letitia Van Zyl-Schultz

Die Mumtaz-onderrigsentrum en Mumtaz Limitless NPO het op 7 November hul jaar met ‘n viering van die Afrikaanse taal, wat vanjaar 100 jaar oud is, afgesluit. Die aand se program is begin met die gewilde poppekas-vertoning, wat oud en jonk vermaak het.

Henk Steyn, ‘n stigterslid, het daarna die verrigtinge geopen en ‘n kort opsomming van die Afrikaanse taal se geskiedenis met die gaste gedeel:

• Die taal het ontstaan uit ‘n mengselmoes rasse, tale en nasies wat aan die puntjie van Afrika in ‘n kultuurpot saamgegooi is.

• Afrikaans se verhaal begin in 1652 met die aankoms van die Hollanders aan die Kaap.

• Benewens die Hollandse invloed was daar twee ander belangrike groepe wat ‘n bydrae gelewer het – die slawe en die Khoi.

• Afrikaans is op 8 Mei 1925 formeel as amptelike taal in Suid-Afrika erken en is tans die derde jongste Germaanse taal wat amptelike status geniet.

• Afrikaans word vandag deur miljoene mense as moedertaal of tweede taal in Suid-Afrika gepraat – en ‘n groot deel daarvan is sprekers wat nie wit Afrikaners is nie.

• Die eeufeesviering van Afrikaans is nie net die viering van ‘n datum nie, maar ook ‘n uitnodiging om die taal se diverse her-koms, kreatiwiteit en toekomsvisie te vier.

Steyn het die gaste verbaas met twee woorde wat heel onbekend is.

“Streelpaneel” is die Engelse tablet en die Afrikaans vir casual wear is volgens hom ‘n “poetspakkie”.

Hy het trots vertel dat Mumtaz die enigste onderrigsentrum in die Weskus is wat sy eie jukskeiklub het.

Jukskei is ‘n tradisionele Suid-Afrikaanse sport.

“Ons kan trots wees op ons taal wat van kombuistaal tot amptelike taal ontwikkel het,” het Steyn gesê en gaste genooi om die aand saam deur die nostalgie van tradisionele Afrikaanse voorlesings en ‘n keurspel liedjies uit die FAK-sangbundel op reis te gaan.” Hy het ook ‘n oorsig gegee van wat Mumtaz Limitless vanjaar verrig het.

Annelie en Henk Steyn, stigters van die Mumtaz- onderrigsentrum en Mumtaz Limitless, is ná die verrigtinge vir ‘n suksesvolle aand gevul met Afrikaanse nostalgie bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article