SALDANHA – Die terugslae wat die lewe haar gegee het, het Shahieda Snyders (46) nie in die lewe teruggehou nie.
Inteendeel, dit het dié Saldanha-inwoner gemotiveer om haarself opnuut te ontdek en haar ervarings te gebruik om ander vroue en kinders in die Weskus te inspireer.
Shahieda, wat al van kleins af ‘n liefde vir modellering gehad het, het ná jare van mishandeling en ‘n verlies aan selfvertroue in 2022 besluit om weer haar plek op die verhoog in te neem.
Die ma van vyf sê die mishandeling het reeds voor haar huwelik begin, maar het tydens die huwelik vererger. “Ek het nie op een dag myself verloor nie. Dit het stadig gebeur. Elke woord het ‘n stukkie van my weggeneem. Uiteindelik het ek net bestaan. Ek het nie meer geleef nie.”
Die besef dat sy haarself verloor het, het gekom toe sy in die spieël kyk en nie meer die vrou herken wat altyd gelag het nie. “My oë was leeg. Ek het besef my stem was weg, my glimlag was weg. Toe weet ek, ek het myself êrens verloor.”
Dit was haar vyf kinders wat haar die krag gegee het om ‘n nuwe pad in te slaan. Sy wou hê hulle moes sien hoe ‘n sterk vrou lyk en nie glo dat seerkry ‘n normale deel van liefde is nie.
‘Elke kind moet weet: jy maak saak’
Haar terugkeer na modelwerk was daarom ‘n poging om weer op die verhoog te staan én dit was deel van haar reis om haar selfvertroue en identiteit terug te kry.
Van 2022 tot vanjaar het sy altesaam 19 titels verower.
Een van die hoogtepunte was die OMT Pageant Extravaganza in Julie, waar sy 11 titels op een aand opgeraap het. Sy is onder meer as Ms Cape Rose, Ms Glitz and Glam, Ms Dazzling Dream Queen en Age Category Overall Winner aangewys. Sy het ook toekennings ontvang vir Best Up and Coming Model, Most Personality, Best Verbal Skills en in verskeie ander kategorieë vir haar vertonings op die loopplank.
Vir Shahieda is dié prestasies haar persoonlike reis wat haar passie aangewakker het om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. In 2023 het sy haar sanitêreprodukte-projek begin, waardeur sy sanitêre produkte aan skole in die Weskus skenk.
Haar volgende groot projek is Miss and Mr Youth West Coast 2026, wat in November by die Hoedjiesbaai Hotel aangebied word. “Ek wil vir ons jeug ‘n platform gee om in hulself te glo. Elke kind in die Weskus moet weet: jy maak saak.”
Sy hoop ook dat haar verhaal ander vroue wat mishandeling ervaar, sal bemoedig en hulle sal herinner dat hulle nie alleen is nie.
“Jy is nie swak omdat jy bly nie, jy was sterk om te oorleef en daar ís ‘n uitweg. Jy verdien liefde wat nie seermaak nie. Vat een tree op ‘n slag. My verlede het my nie gebreek nie, dit het my ge- bou. As ek nie deur daai pyn gegaan het nie, sou ek nie vandag die vrou wees wat ek is nie.”
Sy is veral dankbaar dat sy nie toegelaat het dat haar pyn haar bitter maak nie, maar dat sy dit eerder in ‘n doel kon omskep.
“Die vrou wat ek was, het gefluister; die vrou wat ek vandag is, praat. Ek was ‘n vrou wat weggekruip het, nou is ek ‘n vrou wat ander se hand vat. Alle eer aan God vir die krag wat Hy my gegee het om weer te glimlag.”
LEES OOK: Maak 16 dae die hele 365





