VREDENBURG – Die ma en haar vierjarige kind wat op Donderdag 10 September in ‘n brand in Louwville in die dorp gesterf het, is geïdentifiseer as Abigail Adams (38) en haar kind, Junior Watt.
Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is ‘n geregtelike doodsondersoek geopen ná die voorval in Solomon Williamsstraat in Louwville.
Volgens Ethne Lawrence, woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, het die brand- en reddingsdienste die oproep om 11:37 ontvang. Brandweer- en reddingsvoertuie is om 11:39 ontplooi en het om 11:48 op die toneel aangekom.
“Die oorsaak van die brand kon nog nie vasgestel word nie,” het Lawrence gesê.
Sy het bygevoeg dat verdere ondersoek deur die betrokke owerhede nodig sal wees voordat enige gevolgtrekking oor die oorsaak gemaak kan word.
Met Weslander se aankoms op die toneel was die omvang van die brand duidelik met die struktuur wat heeltemal tot op die grond afgebrand het. Talle inwoners het ook rondom die toneel saamgedrom.
Volgens omstanders het inwoners die rook gesien en hulle na die toneel gehaas, maar die intense hitte van die vlamme het dit vir mense naby die struktuur onmoontlik gemaak om hulp te verleen.
Die tragedie het inwoners en die familie van die oorledenes diep geraak.
Volgens Helfrich word ondersoek ingestel om vas te stel of enige tekens van kwaadwillige optrede gevind kan word.
Die familie van die oorledenes was nog nie gereed om kommentaar te lewer nie.





