PIKETBERG – Sake-eienaars in die middedorp vra duidelikheid oor die uitvoering van die Bergrivier-munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsplan van 2021 en die uitbreiding van die middedorp oor die N7, soos aangedui in die munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsraamwerk wat in 2025 aanvaar is.
Hulle sê hulle het in plaaslike ondernemings en geboue belê met die verwagting dat die bestaande sakekern beskerm en as ’n bestemming versterk sou word.
Die goedgekeurde winkelsentrumontwikkeling by Winkelshoek, aan die oorkant van die N7, het verdere vrae oor die toekoms van die middedorp laat ontstaan.
Die sake-eienaars vra ook duidelikheid oor ’n voetgangerbrug oor die N7 waarvoor Sanral reeds in 2015 ’n ontwerp laat opstel het, maar wat steeds nie gebou is nie.
“Niemand in hierdie straat sê nee vir vooruitgang nie,” sê Cobis Wilson, ’n jarelange inwoner en medestigter van die nuutgestigte Belastingbetalersvereniging.
“Ons vra vir die vooruitgang wat aan ons belowe is. Ons het ons spaargeld in hierdie dorp belê omdat die raad op skrif aangedui het dat die middedorp beskerm sou word.”
Die Ontwikkelingsplan
‘n Gebiedsplan, wat in 2021 vir die Bergrivier-munisipaliteit opgestel is, het bevind dat Piketberg se middedorp goed funksioneer.
Tydens ‘n openbare werkswinkel het inwoners gevra dat die bestaande sakekern en ondernemings beskerm word. Die Ontwikkelingsplan het dié versoek aangeteken.
Dit het ook die beginsel beklemtoon dat leë grond binne die dorp ontwikkel sal word alvorens grond aan die buitewyke ontwikkel behoort te word. Piketberg moes volgens dié benadering as ’n bestemming bevorder word eerder as bloot ’n stilhouplek langs die N7.
Volgens Wilson meen sake-eienaars dat min van die voorgestelde veranderinge tot dusver verwerklik is. Plaaslike inwoners en ondernemings het self verskeie verfraaiingsprojekte aangepak, waaronder werk aan die plaaslike polisiestasie. Hulle het ook die groep Piketberg is Perfect gestig.
’n Sake-eienaar in Voortrekkerstraat, wat verkies om anoniem te bly, sê die plan het ’n rol gespeel in die besluit om in die restourasie van ’n gebou te belê. Volgens die eienaar was die doel om Piketberg as ’n bestemming te help vestig.
Uitbreiding oor N7
Die sake-eienaars wys daarop dat die munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsraamwerk, wat in 2025 aanvaar is, op bladsy 144 die middedorp se uitbreiding oor die N7 aandui. Hulle voer aan dat aangrensende grondeienaars per e-pos ingelig is, maar dat die breër sakegemeenskap nie geraadpleeg is nie.
Die winkelsentrumontwikkeling by Winkelshoek, aan die oorkant van die N7, is goedgekeur, maar die besluit is tans onder appèl. Twee skole het ook besware ingedien.
Die sake-eienaarsgroep sluit die familie agter Piquetberg Mall in, wie se Spar met ’n supermark met die voorgestelde sentrum sal meeding.
Dean Jankielsohn sê die familie se belang is bekend, maar beklemtoon dat die groep se besware volgens hulle oor die uitvoering van die munisipaliteit se Ontwikkelingsplan gaan.
“Nuwe handelsmerke is welkom in Piketberg,” sê Jankielsohn. “Ons het reeds ander kleinhandelaars genader om as huurders by Piquetberg Mall in te kom. Ons wil hulle net in die middedorp hê wat die raad belowe het om te laat groei.”
Munisipaliteit bevestig proses
Die Bergrivier-munisipaliteit het in reaksie op navrae bevestig dat die Winkelshoek-ontwikkeling tans deur die bevoegde appèlowerheid oorweeg word. Volgens die munisipaliteit is die saak dus onderworpe aan ’n formele statutêre appèlproses wat nog nie afgehandel is nie.
Die munisipaliteit sê dit is om dié rede nie gepas om op hierdie stadium kommentaar te lewer oor die meriete van die ontwikkeling, die besluitnemingsproses of die aangeleenthede wat deur die appellante geopper is nie. Dit wil nie die appèlproses beïnvloed of vooruitloop op die uitkoms daarvan nie.
Ná ’n finale beslissing deur die bevoegde owerheid sal die munisipaliteit volgens sy verklaring in ’n beter posisie wees om verdere kommentaar te lewer. Die munisipaliteit het bygevoeg dat hy verbind bly tot die nakoming van wetlik voorgeskrewe prosesse.
Die reaksie spreek egter nie spesifiek die vrae oor die voetgangerbrug of die stappe sedert 2021 om die bestaande middedorp te versterk, aan nie.
Vrae oor voetgangerbrug
Die veiligheid van voetgangers wat die N7 oorsteek, is ’n verdere bron van kommer. Volgens die sake-eienaars het Sanral reeds in 2015 ’n ontwerp vir ‘n voetgangerbrug laat opstel. Die Ontwikkelingsplan van 2021 het die koste op ongeveer R21 miljoen geraam en voorgestel dat die munisipaliteit met Sanral oor die bou daarvan onderhandel.
Die brug is egter steeds nie gebou nie. In ’n brief wat in September uitgereik is, het die waarnemende hoof van Steynville Sekondêre Skool die padkruising as ’n ernstige veiligheidsrisiko vir leerders beskryf.
’n Plaaslike ouer het ook kommer uitgespreek oor die veiligheid van kinders wat die N7 moet oorsteek.
Vrae aan verkiesingskandidate
Voor die plaaslike verkiesing op Woensdag 4 November het die sake-eienaars aangedui dat hulle kandidate in Bergrivier, ongeag hul politieke party, wil vra of hulle die 2021-plan vir Piketberg se middedorp sal ondersteun en of hulle druk op die munisipaliteit en Sanral sal plaas om die voetgangerbrug te bou.
“Wie ook al op 4 November wen, ons vraag bly dieselfde,” sê Wilson. “Hou by die plan wat julle aan ons gegee het, en bou die brug.”
LEES OOK: Velddrif-brug versterk oor verkeer





