Verskeie ouers in Velddrif het hul kommer uitgespreek oor die registrasie-status van Bergrivier Akademie nadat dit aan die lig gekom het dat die instelling nie tans by die Wes-Kaapse Departement van Onderwys as ‘n skool geregistreer is nie.
Ouers het onlangs by Weslander aangeklop om die gemeenskap bewus te maak van die situasie en ander te waarsku om seker te maak van ‘n onderwysinstelling se amptelike status voordat hulle hul kinders daar inskryf.
Die instelling, wat tans as die “Bergrivier Akademie” funksioneer, het volgens beskikbare inligting sedert 2024 reeds verskeie naamsveranderings ondergaan. Dit was al voorheen bekend as “Bergrivier Tuis Onderrig” en later as die “Weskus Akademie”.
Gerugte doen die ronde dat die instelling gebruik maak van die sogenaamde “Sonneblom-kurrikulum”, wat nie ‘n erkende of amptelik goedgekeurde kurrikulum in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel is nie. Volgens die WKOD is amptelike skole in Suid-Afrika verplig om die nasionale kurrikulum, bekend as Caps, te volg.
Weslander het verskeie klagtes van ouers ontvang en op Woensdag 18 Maart met onder andere Chrisma Faulkner gesels. Sy het haar kommer uitgespreek oor die geldigheid van hul kinders se akademiese verslae.
Faulkner se twee kinders was sedert 2024 by die skool ingeskryf. Haar seun (10), wat met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsversteuring (ADHD) leef, is volgens haar vir ‘n tweede keer in graad vier teruggehou. “Ons het met die stigters, Francois en Hanna le Roux, vergader en gevra watter kurrikulum gebruik word. Ons is meegedeel dat dit die Sonneblom-kurrikulum is. Ons het gevra vir meer besonderhede oor die kurrikulum, want sover ons geweet het, moet ‘n skool die Caps-kurrikulum volg. Ons is meegedeel dit is nie nodig om voor graad nege ‘n kurrikulum te registreer nie.”
Faulkner voeg by haar seun het verlede jaar akademies goed gevaar en selfs pryse by die skool se prysuitdeling ontvang. Tog het hul kommer oor die kurrikulum bly voortduur.
“Ons het verskeie kere gevra om meer inligting oor die kurrikulum en sy boeke te sien, maar is meegedeel dit is nie nodig nie.”
Volgens Faulkner het die eienaars hulle aanvanklik verseker dat die skool by die WKOD geregistreer is, iets wat hulle nie destyds onafhanklik bevestig het nie. Sy het later uitgevind Bergrivier Akademie het al op Maandag 9 Maart ‘n amptelike kennisgewing van die WKOD af ontvang waarin die “skool” aangesê word om sy deure te sluit.
Teen November 2025, nadat hulle steeds geen duidelikheid oor die kurrikulum ontvang het nie, het die gesin besluit om hul kinders tuis te onderrig. Ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996) moet leerders wat tuisonderrig ontvang by die betrokke provinsiale onderwysdepartement geregistreer wees.
“Toe ons die registrasiedokumente saam met die rapporte indien, is ons ingelig dat die rapporte nie geldig is nie, aangesien die instelling nie as ‘n skool geregistreer is nie.”
Die WKOD het bevestig dat streng regulasies op onafhanklike skole van toepassing is, insluitend registrasie en goedkeuring van die kurrikulum wat aangebied word. Instellings wat nie geregistreer is nie, funksioneer buite hierdie raamwerk.
Weslander het Bergrivier Akademie sowel as die departement vir kommentaar genader. Volgens Bergrivier Akademie is hul hoofdoel om “ ’n positiewe bydrae tot die kinders en gemeenskap van Velddrif te lewer deur gehalte-onderrig in ‘n kindervriendelike omgewing te bied”.
In terugvoer aan Weslander skryf hulle dat Bergrivier Akademie “tans in die proses is om as ‘n onafhanklike private skool by die toepaslike owerhede te registreer”.
“Hangende finalisering van hierdie proses funksioneer die entiteit as ‘n leerondersteuningsentrum binne ‘n alternatiewe onderrigmodel. Die akademie gebruik ‘n Caps-gebaseerde kurrikulum as riglyn vir akademiese ontwikkeling.”
Volgens hulle word ouers deurlopend oor die aard van die instelling ingelig, die status van registrasie asook hul eie statutêre verantwoordelikhede. Hulle het enige insinuasie van onreëlmatigheid, wanvoorstelling of nie-nakoming van toepaslike wetgewing verwerp.
Die WKOD het op Woensdag 8 April aan Weslander bevestig die instelling het wel aansoek gedoen om as ‘n skool te registreer en bevestig die proses is tans nog aan die gang.
Intussen bly onsekerheid heers oor die status van die onderrig en kwalifikasies wat aan leerders gebied word, terwyl kinders steeds by die instelling skoolgaan.




