“Kinders se opvoeding is ons prioriteit,” sê die nuwe eienaar van Bergrivier Akademie in Velddrif.
Weslander het in die uitgawe van 16 April berig oor ouers se kommer dat die Bergrivier-akademie nie by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) as ‘n skool geregistreer was nie.
Sedertdien het verskeie ontwikkelinge by die instelling plaasgevind.
Die skool is onder nuwe bestuur, gekwalifiseerde onderwysers is aangestel, die registrasieproses as private skool is aan die gang en voorbereidings word vir verhuising na ‘n nuwe perseel getref.
Volgens Elzette Engelbrecht, wat as administrateur aangestel is, bly die fokus egter onwrikbaar op die leerders.
“Kinders kan nie by interne sake betrek word nie. Ons wil seker maak dat ouers gerus is en weet hul kinders se opvoeding kry voorkeur,” het sy gesê.
Engelbrecht hanteer onder meer die skool se administrasie, die registrasieproses by die WKOD, leerder- verwante administrasie en die logistieke beplanning vir die verhuising na die nuwe perseel in De Villiersstraat, Laaiplek (die voormalige Netstoor).

Weslander het ‘n onlangse ouervergadering op 13 Mei bygewoon, waar die personeel en ouers toegespreek is.
Volgens die personeel ontvang leerders individuele aandag en ervaar kinders ‘n gemaklike leeromgewing.
Personeellede wat reeds gedurende die eerste kwartaal by die instelling betrokke was, sê die skool het nou meer struktuur en administratiewe prosesse verloop gladder.
‘n Ouerpaar wie se kind reeds sedert verlede jaar by Bergrivier Akademie is, vertel hul kind, by wie aandagafleibaarheid gediagnoseer is, floreer in die omgewing.
Volgens Engelbrecht wag die skool tans op ‘n soneringsertifikaat – die finale dokument wat die WKOD benodig om die registrasie as private skool af te handel.
Die sertifikaat sal na verwagting uitgereik word sodra die skool by sy nuwe perseel gevestig is.
Sy het verder bevestig twee nuwe leerders het onlangs ingeskryf en die sentrum bedien tans 68 kinders.
Bouwerk by die nuwe perseel in De Villiersstraat is ten volle aan die gang om klaskamers gereed te kry sodat leer- ders so spoedig moontlik kan verhuis.
Engelbrecht sê die Bergrivier Akademie se doel bly om ‘n positiewe bydrae tot die kinders en die Velddrif-gemeenskap te maak deur gehalte-onderrig in ‘n kindervriendelike omgewing aan te bied.
“ ’n Nuwe hoofstuk, nuwe personeel, die nuwe perseel en ‘n private skool wat gehalte- en individuele onderrig vir kinders bied, is ons prioriteit,” het sy gesê.






You must be logged in to post a comment.