Johan Moolman, raadslid van Velddrif, sterk tans aan nadat hy onlangs by sy huis geval en ‘n skedelfraktuur opgedoen het.

Volgens Moolman gaan dit reeds beter en herstel hy goed by die huis.

Hy hoop om ná 25 Mei weer terug in die tuig te wees, indien dokters tevrede is met sy vordering.

“Ek kan nie wag dat die krammetjies op my kop uitkom nie,” sê hy.

Moolman vertel dat ‘n gewone oggend op pad werk toe in ‘n tragedie ontaard het toe hy ‘n trappie misgetrap en met sy kop teen die rand van ‘n trap geval het.

“Dit het my met ‘n fraktuur in my skedel gelaat, asook bloeding soos wat dikwels met ‘n kopwond gepaard gaan,” vertel hy.

“Ek het ongelooflik baie om voor dankbaar te wees, veral as ek lees oor alles wat verkeerd kon gegaan het. Die grootste bekommernis was die risiko van verdere bloeding op die brein, hoofpyne en ongemak, asook die moontlikheid van infeksie weens die fraktuur in my skedel. As die bloeding nie gestop het nie, sou hulle moes opereer.”

Moolman skryf sy herstel toe aan geloof, familie en ondersteuning van geliefdes.

“Alle eer kom my Hemelse Vader toe wat Sy hand van beskerming en genesing oor my hou. Nicolette, my vrou, se ondersteuning en hulp is van onskatbare waarde, nie net by die huis nie, maar ook by die werk. Ook my ouers, wat gereeld vir ons etes bring.”

Hy het die gemeenskap bedank vir die talle boodskappe, gebede en geskenke en gesê dit beteken baie vir hom en sy gesin.

“Ek sien almal binnekort,” sê Moolman.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 21 May 2026
    Weslander E-Edition – 21 May 2026

Gift this article