“Toe ek sien hy lê ‘n ent van my af, wou ek na hom toe stap, maar my bene was lam en ek was te swak.” Só vertel ‘n gebroke Naomi Smith (30) van Velddrif.
Haar en haar verloofde, John-Ray Pieterse (26), bekend as “Skaap”, se pret die vorige aand het Saterdagoggend 4 April in ‘n tragedie verander toe hulle aangeval is.

Pieterse en Smith was omstreeks 01:45 op pad huis toe ná ‘n aandjie uit toe hulle uit die bloute deur ‘n groep mense met onder meer gholfstokke in Dolfynstraat, Noordhoek, aangeval is.
Soos Smith verduidelik, was hulle in een van twee voertuie op pad huis toe. By ‘n spoedhobbel het die agterste voertuig in die voorste voertuig vasgery. Die twee voertuie het stilgehou en die insittendes en Pieterse en Smith het almal uitgeklim om die skade vas te stel.
“Dit was toe ander mense opgedaag en begin vloek en skel. Ek het geen idee waar hulle vandaan gekom het nie, maar die hele situasie met die motors wat in mekaar vasgery het, het absoluut niks met hulle te doen gehad nie. Dis iets wat my neef en swaer onder mekaar uitgesorteer het.”
Bygekom
Pieterse en Smith het besluit om sommer verder huis toe te stap. “Daar is ‘n donker gedeelte op die pad huis toe, en ek het ewe skielik ‘n hou teen my kop gevoel,” het Smith vertel.
Sy was ‘n ruk lank bewusteloos en toe sy bykom, is sy tot in ‘n sanderige gedeelte gesleep. “My mond en neus was alles vol sand. Toe ek uiteindelik regop kom, het ek Skaap net daar sien lê.”
Smith meen sy het haarself met alles in haar en die laaste bietjie krag wat sy gehad het, tot by Skaap gesleep. Volgens haar het hy nog tekens van lewe getoon, maar hy kon nie beweeg nie. Sy het steeds met hom gepraat.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, het hy met die polisie se aankoms nog gelewe, maar is egter enkele minute daarna oorlede.
Die Laaiplek-polisie ondersoek ‘n saak van moord en het reeds William Owies (50) en ‘n 17-jarige seun in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Hulle het op Dins-dag 7 April in die hof op aanklag van moord verskyn en op Woensdag 8 April in die Laaiplek-hof om om borgtog aansoek te doen.
Betuig
Smith sê toe sy die tyding hoor dat Pieterse oorlede is, kon sy dit nie glo nie. “Ek het nie woorde nie. My hart is stukkend. Ons het net sewe maande terug ons baba verloor; ek was agt maande swanger. Hy was een van die beste mense wat ek ooit geken het – enig in sy soort; spontaan; vriendelik. Hy het almal om hom laat lag.”
Talle inwoners het hul medelye op sosiale media betuig en baie praat van hoe geliefd Skaap in die gemeenskap was.
Marius Young, ‘n vriend en kollega van hom by die bekende Maanhaar-kroeg in Velddrif, sê hy sal altyd onthou hoe Skaap heel gelukkig agter die kroeg gedans het. Hy hoor nog sy lag en gaan dit mis. “Ek het eens langs jou gestap om jou kind te begrawe en het nooit gedink ek sou eendag alleen na jou graf moet stap nie. Dit breek my, Skaap. Jy is op ‘n sinnelose manier van ons weggeneem, en ek voel dit elke dag. Maar jy bly my broer, jy bly my maat. Ek dra jou lag, jou gees en hart by my.”
Maanhaar-kroeg het op sy Facebook-blad geskryf dat Skaap meer as net ‘n kollega was. “Hy was ‘n dierbare vriend, ‘n broer wat met ‘n oop hart en ‘n aansteeklike liefde vir die lewe geleef het. Hoewel ons sukkel om hierdie sinlose verlies te verwerk, kies ons om die ongelooflike lig wat hy in hierdie wêreld en in ons familie gebring het, te eer. Hy het ‘n seldsame gawe gehad om mense gesien te laat voel en elke dag ‘n bietjie helderder te maak. Hy het ons geleer om ‘n bietjie harder te lag en die ritme selfs in die moeilikste dae te vind.
“Aan al ons kliënte, vriende en ons span – dankie dat julle deel is van die gemeenskap wat hy so liefgehad het. Ons is verpletter deur die manier waarop hy van ons weggeneem is, maar ons is eindeloos dankbaar vir die tyd wat ons met hom gedeel het.”
• Geen begrafnisreëlings is al getref nie.





You must be logged in to post a comment.