Met Paasnaweek voor die deur, salaristrekkers wat maandeinde-betalings gekry het en ‘n toestroming van besoekers na die Weskus, soebat Weslander mense om nie te drink en bestuur nie.

Dit is wet en dit kan lewens red, nie net jou eie nie, maar ook al die ander op die pad.

Of ‘n dronkbestuurder die oorsaak is daarvan dat jy ‘n geliefde aan die dood afstaan, en of jý dalk mense se dood veroorsaak omdat jy dronk bestuur, daar is altyd gesinne en families wat rou.

Verlede naweek is sewe mense vir dronkbestuur in hegtenis geneem, vyf daarvan net op Vredenburg.

‘n Mens kan seker nie verwag dat dié naweek enigsins anders gaan wees nie, want mense se gedrag gaan nie oornag verander nie.

Daar gaan ‘n sterk, geïntegreerde wetstoepassingsfokus wees om dronkbestuurders van die paaie af te kry. Wetstoepassing alleen kan egter nie die probleem oplos nie.

Die verantwoordelikheid begin by elke individu.

As jy beplan om te drink, maak eerder ‘n plan. Kry iemand wat nugter is om jou huis toe te neem, bly waar jy is of maak gebruik van die magdom ry-dienste in die Weskus om jou bestemming veilig te bereik.

Moenie jou lewe of die van iemand anders op die spel plaas nie. Jy kry net een keer die kans om ‘n verkeerde keuse te maak . . . dan is dit jou gesin of familie wat in rou gedompel gaan wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article