Dis amper Paastyd in die Kaap. Iewers in ‘n kombuis in die Wes-Kaap sien ek ‘n antie wat doenig is om haar vis af te bak, die geheime kerrievis-sous in te lê en hierdie jaar haar eie “hotcross buns” te maak, want die winkelpryse is hemelhoog. My reuksintuie neem elke sweempie van al die aangename geure in. Ingelegde kerrievis soos net ‘n Wes-Kapenaar dit kan maak.
Ek het verlede jaar vir ‘n klein bakkie ten duurste betaal by ‘n bekende kettingwinkel. Groot was my teleurstelling, want dit was maar net nie dieselfde as tuisgemaakte ingelegde vis nie. Om daai finale Paasfeeslekkerte in jou bord te geniet is een ding. Om die vis in die hande te kry is egter ‘n storie van ‘n ander kleur, want . . . Waar loop die vis innie Kaap hierdie jaar? En as jy van die Wes-Kaap afkomstig is, dan weet jy instinktief dat jy sal moet begin opskud om jou ingelegde vis gereed te kry vir die tydperk. Maklik is dit ook nie altyd nie, want genade ons . . . die vis raak duurder elke jaar.
Onthou jy nog verlede jaar hoe die snoeke sommer hier knap by die R600 elk gaan draai het (met die snoekkop daarby). Ek hoor al klaar hoe die volk onder mekaar begin navraag doen vir ‘n lyn om ‘n paar snoeke, geelstert, engelvis of sommer ‘n klomp harders in die hande te kry. Jip, harders sal ook maar die ding moet doen, want te uitsoekerig kan ‘n mens deesdae ook nie meer wees nie.
Die opbou na die wag en uitsien na daai vis-geluk is seker teen dié tyd al in volle gang. Dalk is die manne op die skuitjies by verskeie Weskusdorpe alreeds besig om hul geluk te “try” om die volk gelukkig te hou met ‘n paar vissies. Pragtige gesig as hulle sommer daar langs die strand die skuitjies laat anker gooi of langs die pad in Vredenburg, en almal wat “first come, first served” met ‘n glimlag op die gesig huis toe laat ry. Of dalk gaan sake beter op die kaai by Lambertsbaai se hawe. Julle weet mos die mamma by die huis sal jou orals laat rondry tot jy daai “special” op die snoek of kabeljou gekry het.
Hou maar die oor op die grond en die oog op sosiale media, want jy weet nooit wanneer die snoek dik loop daar in Saldanha nie. Of gaan maak ‘n draai in Paternoster. Daar wil dit voorkom is die geluk altyd aan die kant van die visserman en kan jy sommer daai viskwotatjie in ‘n sakkie of boksie kom afhaal. Moet asseblief tog net nie wil onderhandel vir ‘n paar krewe daarby nie. Hou matigheid voor oë, want jy mag dalk net aan die verkeerde kant van die gereg beland. Het jy ‘n familielid in Lambertsbaai? Hou maar sy nommer op “speed-dial”, want daar loop die snoek party jare sommer lekker dik.
En met die ekonomie wat deesdae so druk, wil ek darem glo dat ons vissermanne nie te buitensporig met hul pryse sal raak nie. En as die snoek dik loop, dan vat jy daai paar snoeke met kop en kuite en al. Mamma wat in spanning by die huis wag sal weet wat om alles daarmee te maak. Sy wag al hoeka vir ‘n paar weke in die aanloop na Paasfees om daai klompie vis in die hande te kry. Genoeg te maak vir almal vir Paasnaweek en daarna.
Jip, jy het reg gehoor – dit gaan weer vis wees vir ontbyt, middagete en aandete. Gebakte snoekkuite vir ontbyt, ingelegde vis vir middagete en viskopkerrie vir aandete! Moenie eens probeer om te kla oor die net-vis-oppie-spyskaart-gedoente nie. Jy sal sommer gou hoor jy bly nie in ‘n hotel nie. Eet wat daar is of gaan boek jou in by die Holiday Inn! So my mens, sit maar jou kwart oor nege glimlag op en geniet jou vis heeldag en aldag oor die Paastyd! En as jy dan nou regtig nie van vis hou nie, dan moet jy maar jou Easter-begroting uitwerk om vir jou ‘n lekker tjoppie oor die kole te gooi.
Vir die res van die Kaap sal die meeste van ons by die tradisie hou van ingelegde vis en kruiskoekies op die tafel. Wel, ek hoop jou soektog na die vis “specials” is amper verby. En as jy alles gereed het om die afbak-en inlêwerk te doen, dan wens ek jou die allermooiste en geseëndste Paastyd toe.
Op die ou einde is daar mos ook ‘n dieper betekenis agter die vis en broodjies. Mag ons dit nooit uit die oog verloor nie. Die tye waarin ons leef, vereis dat ons dieper kyk as net die geskarrel na snoek of harder-“specials” voor die Paastyd.
Dis lydenstyd. Mag ons gebede daarop gemik wees dat ons in ‘n wêreld kan leef waar daar vrede is. Waar geen kind honger moet gaan slaap nie. Mag ons in hierdie Paastyd die min wat ons het met ander deel.





