Die straatbewoner Etienne Blauuw maak ‘n verskil.

‘Klein dade maak ook groot verskil’


‘n Nuwe inwoner van Langebaan, Ruan Eloff, doen ‘n beroep op inwoners om saam te werk om die dorp se strate skoon en netjies te hou, terwyl daar ook met meer menswaardigheid na straatbewoners uitgereik moet word.

Eloff en sy gesin woon nou al vyf weke in Langebaan, nadat hulle van Mosselbaai verhuis het.

Volgens hom voel dit reeds asof hulle al jare deel van die gemeenskap is.

“Ons geniet dit baie hier. Die mense is vriendelik en dit voel asof ons al lank hier woon,” sê Eloff.

Hy vertel egter dat die rommelprobleem in sekere dele van die dorp hom bekommer, veral in die stapgangetjie tussen Da Gama-straat en die karavaanpark, waar swartsakke en gemors gereeld rondlê.

Volgens Eloff het hy Woensdag 20 Mei tydens ‘n stappie ‘n straatbewoner met ‘n trollie by die gangetjie raakgeloop en besluit om in te gryp.

“Ek het vir hom gevra om die straat en gangetjie skoon te maak en te vee, en in ruil daarvoor het ek vir hom kos en ‘n paar rand aangebied,” vertel hy.

Daar was glo vier swartsakke vol rommel en die gangetjie was byna ontoeganklik vir voetgangers.

Eloff sê hy het ook aangebied dat die man elke Woensdag die area kan kom skoonmaak in ruil vir kos en hulp. “Hy was baie trots op sy werk en ek glo hy sal weer opdaag.”

Die straatbewoner is Etienne Blaauw, en volgens Eloff was hy dankbaar vir die geleentheid om te help. Eloff hoop ook sy optrede sal ander inwoners aanmoedig om soortgelyke inisiatiewe te begin.

“As elke inwoner ‘n klein verskil maak, kan ons saam die munisipaliteit help om Langebaan skoon te hou. Die kos en ‘n paar rand help ook die straatmense en gee hulle hopelik meer motivering om minder te mors en weer menswaardigheid te ervaar,” sê Eloff.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 28 May 2026
    Weslander E-Edition – 28 May 2026

Gift this article