Die nuus wemel die laaste paar weke oor die sesjarige Joshlin Smith wat soos mis voor die son verdwyn het. Almal praat oor Joshlin; almal wonder oor haar.

Wat het gebeur? Lewe sy nog? Waar bevind sy haarself tans?

Dan kom ’n mens weer terug by die vraag: Lewe sy nog?

Almal wonder, die stories loop wyd en syd en elkeen wil ’n stertjie byvoeg, maar die nuus oor Joshlin se verdwyning, haar ma se swangerskap en al die ander stories het my laat dink aan ouerskap.

Besef ons dat die kinders wat God aan ons toevertrou het, geskenke van Bo is? Kom ons (dié wat ouers is) nog agter hoe blessed ons werklik is?

Baie vroue sukkel om swanger te raak; baie mense bid vir ’n wonderwerk.

En dan is daar mense soos Joshlin se mamma – iemand wat eintlik daar moes wees vir haar kind. My bedoeling is nie om vingers te wys nie, want as ek een vinger wys, dan wys daar soms drie of vier terug. Nee, my bedoeling is om myself af te vra of ek nog dankbaar is vir my eie kind, of neem ek net aan dat ek ’n kind het en dat dit so moet wees?

Joshlin het my ook laat besef dat my kind jou kind en jou kind my kind is, want almal is bekommerd oor haar. My volgende vraag duik egter op: Is my kind werklik jou kind en jou kind my kind? Of sê ons net so? Kyk ons nog uit vir ons medemens? Of neem ons aan dat hulle na hulself kan kyk?

Die Bybel sê ons moet God bo alles liefhê en ons naaste soos onsself. Het ons werklik ons naaste lief soos onsself? Of is ek belangriker as almal?

Net jy sal hierdie vraag vir jouself kan beantwoord.

Ek laat julle met die aanhaling van Sigmund Freud: “It is not attention that the child is seeking, but love.”

Wees vandag die liefde vir ons kinders; wees vandag die liefde vir jou naaste se kinders. Gee om, kyk uit, wees daar vir mekaar en mekaar se kinders.

Ons is saam op die planeet; kom ons vat hande en wees werklik daar vir mekaar. Onthou om jou naaste so lief te hê soos jy jouself het.

. Rick Marais is ’n verslaggewer by Weslander se susterskoerant DistriksPos & Helderberg Gazette, wat in die Helderberg-streek versprei word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article