VREDENBURG – Sommige inwoners beskryf dit as ‘n “bron van lewe wat beskerm moet word”. Vir ander is dit bloot ‘n stormwaterkanaal wat soms vloei wanneer swaar winterreën oor die Weskus uitsak.
‘n Gedeelte daarvan word selfs gebruik om gesuiwerde munisipale rioolwater see toe te voer.
Amptelik is dié natuurweeskind egter ‘n rivier – met ‘n naam: die Bokrivier.
Volgens sommige bronne ontspring die rivier iewers in die heuwels aan die westekant van Vredenburg en vloei dit deur plaasgrond tot waar dit by Blue Bay Lodge in Saldanha in die hawe uitmond. Maar waar ontspring die Bokrivier presies, waar pas Muggievlakte en die dorp se stormwaternetwerk in, en hoe gesond is dié byna vergete rivier?

Die Bokrivier is gewoonlik skaars ‘n meter breed en plek-plek kurkdroog. Op 7 Junie 2007 het dit egter in vloed afgekom en ‘n historiese klipbruggie by sy monding weggespoel. Ook in Junie vanjaar het die rivier ná goeie winterreën sterk gevloei. Ten spyte hiervan heers onduidelikheid oor die rivier se oorsprong. Selfs amptelike naamborde is nêrens te sien nie.
Volgens Tereza Burger, ‘n woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), ontspring die Bokrivier wel in Vredenburg. ‘n Kaart, wat die munisipaliteit verskaf het, wys dit ontspring aan die linkerkant van die Paternosterpad, op pad uit die dorp.
Langs ‘n ‘stormwaterkanaal’
Die waterstroom aan die regterkant is volgens die SBM bloot ‘n stormwatersloot wat van Muggievlakte sowat ‘n kilometer verder tot in die Bokrivier vloei.
‘n Ruimtelike voorstelkaart, wat in Mei 2025 vir die SBM opgestel is, skep egter verdere onsekerheid. Daarop word waterbronne aan weerskante van die pad as “rivier” aangedui, met “Bok” aan die linkerkant. Die kaart toon ook ‘n 32-meter-bufferstrook vir ontwikkelingsprojekte.
Weslander het ook by Nickie Pienaar, ‘n bekende Vredenburg-inwoner en boer, gaan kers opsteek. Pienaar (81) sê die Bok se oorsprong lê feitlik in die middel van die dorp, tussen die Ipic-winkelsentrum en die Twisfonteinmonument.

Volgens hom voer ‘n ondergrondse stormwaterpyp reënwater van ‘n opgaardam in ‘n munisipale park na die Bok se oorsprong. Pienaar sê die waterbron by Muggievlakte is gewis ‘n mensgemaakte kanaal wat stormwater na die Bokrivier lei. Die onderskeid het nuwe betekenis gekry met ‘n behuisingsontwikkeling langs die Paternosterpad.
‘n Omgewingsgoedkeuring uit 2008 wys die aangrensende waterbron as ‘n “storm water channel” en vereis ‘n 20-meter-bufferstrook.
By die rivier se monding in Blouwaterbaai heers egter kommer oor watergehalte. Onafhanklike watertoetse het volgens omgewingsbewustes herhaaldelik verhoogde E.coli- en enterokokki-vlakke aangedui. Kort voor sy monding vloei die Bokrivier verby die SBM se afvalwaterbehandelingsaanleg, waar behandelde uitvloeisel in die rivier gelaat word.

Voldoen aan vereistes
Mart-Mari Dods, die besturende direkteur van Blue Bay Lodge, sê die rivier is ‘n belangrike omgewingsbate, maar word verwaarloos. “Die water is van baie swak gehalte. Besoedeling is dus ‘n bekommernis weens die hoë E.coli-tellings in riviertoetse,” sê Dods.
Volgens haar voldoen die behandelde water, wat by die munisipale aanleg vrygestel word, wel aan die nodige vereistes. Sy vermoed besoedeling kan verder stroomaf deur ‘n lekkende rioolpyplyn in die rivier beland. “Die riviermonding in die baai beïnvloed die see se watergehalte en seelewe – veral die oester- en mosselplase,” sê sy.
Die SBM sê die Bokrivier word amptelik as ‘n rivier erken en is ‘n droë rivier wat hoofsaaklik ná swaar reënval vloei.

Die munisipaliteit sê hy hou die stormwaterkanale by die oorsprong in stand en het ‘n instandhoudingsplan vir die rivier van die afvalwaterbehandelingsaanleg tot by die monding. Volgens die SBM is tans geen bewyse te sien dat rioolbesoedeling in die Bokrivier van die Saldanha-aanleg af kom nie. Die behandelde uitvloeisel word maandeliks deur ‘n onafhanklike, geakkrediteerde laboratorium gemonitor.
Intussen bly die Bokrivier ‘n byna vergete natuurbate – ‘n rivier sonder duidelike erkenning, maar een wat as belangrik vir die Weskus se natuurlike omgewing beskou word.
Stort dus ‘n nodige traan vir die Weskus se Bokrivier. Dalk luister iemand . . .





