Verskeie werkswinkels oor taal en kultuurerfenis in die land se kushawens word sedert Maandag 24 Augustus tot Vrydag 28 Augustus in vier dorpe in die Saldanhabaai Munisipale-gebied (SBM) gehou.
Dit word aangebied deur navorsers en akademici van die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) en
werkswinkels en gesprekvoering word in Saldanha, Langebaan, Paternoster en St. Helenabaai gehou.
Dit is ook bygewoon deur onder meer lede van plaaslike gemeenskappe, vissers, tradisionele leiers en verteenwoordigers van die maritieme-bedryf.
Volgens Motale Nkgoang, die streeksdirekteur van UNISA in die Wes-Kaap, is die werkswinkels ‘n
belangrike inisiatief omrede dit die universiteit in gesprek bring met die mense wie se geleefde ervarings, tale, erfenis en kennis hulle akademiese werk behoort te beïnvloed.

Hy het ‘n openingstoespraak by die eerste werkswinkel in die Diazville-gemeenskapsentrum in Saldanha gelewer.
“Ons is hier in Saldanhabaai bymekaar, nie bloot om nog ’n universiteitswerkswinkel te hou nie.
Ons het hierheen gekom om te luister en te leer. Ons het hierheen gekom om betrokke te raak en omdat UNISA erken dat kennis nie slegs binne die mure van universiteite bestaan nie.
Kennis bestaan ook binne gemeenskappe en in die taal van vissers.
“Dit bestaan in die herinneringe van families wat geslagte lank langs hierdie kus gewoon het. Dit bestaan in die ervarings van werkers in ons hawens. Dit bestaan in die verhale van ons moeders, vaders, grootouers en voorouers en daarom is vandag se gesprek belangrik,” sê Nkgoang.
Volgens hom is die Weskus strategies belangrik vir die Wes-Kaap, Suid-Afrika én vir die Afrika-kontinent.
“Die oseaan is nie bloot iets wat ons sien wanneer ons na die horison kyk nie. Dit is verbind met lewensbestaan, handel, voedselsekerheid, toerisme, energie, vervoer, kultuur, identiteit, volhoubaarheid van die omgewing en ekonomiese ontwikkeling.

Daar is egter nóg ’n dimensie wat ons soms miskyk. Die oseaan het ook ’n taal en kusgemeenskappe het maniere ontwikkel om met mekaar te kommunikeer.
‘n Visser kan die see op maniere lees wat nie maklik uit ‘n handboek aangeleer kan word nie.
‘n Plaaslike woord of uitdrukking kan geslagte se opgehoopte kennis oor weer, visvang, gevaar, navigasie of die omgewing bevat.”
Die huidige werkswinkels oor mariene studies in die Weskus is deel van UNISA se tien katalitiese nisgebiede, wat ook onder meer lugvaart, motortegnologie, natuurwetenskappe, gesondheid, energie en vrouesake, insluit.
Volgens UNISA gaan hulle navorsing en betrokkenheid by plaaslike gemeenskappe oor Afrika se toekoms en om te verseker dat Afrika-universiteite nie toeskouers bly terwyl kennis oor Afrika se oseane, hulpbronne, sy mense en sy ontwikkeling elders gegenereer word nie.
Die universiteit se tien nisgebiede poog ook om UNISA se akademiese agenda te versterk en navorsing, innovasie en betrokke geleerdheid te posisioneer om op maatskaplike behoeftes te reageer.
Die huidige werkswinkels in die SBM volg kort ná UNISA se katalitiese nisgebied-navorsingsimposium wat in Pretoria aangebied is. Dit is deur verteenwoordigers van die Weskus bygewoon wat aan paneelbesprekings deelgeneem het.
Brett Arendze, ‘n tradisionele leier van die Weskus Chari-Guriqua in die Saldanha-gebied, het die UNISA-navorsing en werkswinkels verwelkom en sê hy hoop dit gaan ‘n verskil maak en voordele inhou vir plaaslike gemeenskappe en bestaanvissers.
Arendze was ook betrokke by die UNISA-simposium in Pretoria, waar hy die universiteit aangemoedig het om navorsing in die Weskus te doen. Hy het UNISA-navorsers toe uitgedaag om te help om maniere te vind om die regte en ekonomiese geleenthede van inheemse kusgemeenskappe, wat van die see afhanklik is vir hul lewensbestaan, te herstel.
Arendze het sy pleidooi gemaak tydens ‘n paneelbespreking oor inklusiewe wetenskap en innovasie vir volhoubare oseaan- en maritieme toekomsmoontlikhede. Volgens hom word plaaslike gemeenskappe toenemend uitgesluit van ‘n oseaanekonomie wat histories ‘n sentrale rol in hul lewens gespeel het.
“Ons word soos indringers in ons eie see behandel. Kleinskaalse vissers word uitgesluit en ons word verbied om die oseaan te gebruik. Die huidige permitstelsel en bewaringsbeleide dra daartoe by dat plaaslike gemeenskappe uitgesluit word van winsgewende bedrywe soos mossel- en oesterboerdery,” het hy gesê.
Volgens Nkgoang was die Weskus se insluiting daarna in navorsingsprojekte betekenisvol en nie bloot toevallig nie.
“Dit het gedemonstreer dat UNISA waarde heg aan die perspektiewe wat uit hierdie streek ontstaan en erken dat gesprekke oor die toekoms van ons katalitiese nisgebiede nie slegs in Pretoria, in laboratoriums, kantore of lesingsale, kan plaasvind nie. Die stemme van Saldanhabaai en die breër Weskus moet ook gehoor word.”
Die projek fokus veral op taal, kommunikasie en die doeltreffendheid van taalgebruik in kusgebiede en gemeenskappe en ondersoek die waarde daarvan binne die maritieme-bedryf.

Volgens Nkgoang is kommunikasie fundamenteel tot elke bedryf en poog die
UNISA-projek om te ondersoek watter van Suid-Afrika se amptelike tale dominant is binne die maritieme-bedryf.
“Ons moet verstaan wie se tale dominant is, wie se stemme moontlik gemarginaliseer word en watter implikasies dit vir deelname en insluiting het. Die projek poog ook om vas te stel of nuwe vorme van taal binne kusgemeenskappe ontwikkel het, want gemeenskappe skep woordeskat. Die projek poog voorts om erfenisterreine, kennis, tradisies en inheemse kennisstelsels binne kusgebiede te identifiseer. As kennis nie gedokumenteer word nie, kan dit verdwyn.”
Volgens Arendze is volhoubaarheid nie slegs die beskerming van die visbron nie.
“Dit moet ook gaan oor die beskerming van die mense wat simbioties aan daardie vis verbind is. As wetenskap nie die voortbestaan van ons kultuur insluit nie, is dit nie inklusief nie – dit is uitbuitend. Ons vra nie vir aalmoese nie. Ons wil hê dat ons toegang herstel word, dat ons erfenis gerespekteer word en dat ons regmatige aandeel in die ekonomiese rykdom van Saldanhabaai verseker word en ons sien uit daarna oor hoe UNISA sy enorme navorsingsvermoë gaan gebruik om ons te help.”
Die universiteit beoog om later ‘n navorsingsverslag met sy bevindinge en aanbevelings oor die Weskusprojek te publiseer terwyl ‘n soortgelyke projek in KZN beplan word.






You must be logged in to post a comment.