KYK | Duisende Trekduikers skep daagliks skouspel oor Bergrivier

Trekduikers vlieg oor die kaai in Laaiplek. FOTO: Letitia Van Zyl-Schultz

KYK | Duisende Trekduikers skep daagliks skouspel oor Bergrivier


VELDDRIF: Vir inwoners en besoekers is die daaglikse vlug van duisende Trekduikers oor die Bergrivier ‘n bekende en indrukwekkende gesig. Volgens Philipp Grundlingh en Ernita Flynn van BirdLife South Africa, asook die bekende voëlkykers Bev en Mike Moll, is die verskynsel die gevolg van die voëls se daaglikse voedings en ruspatroon.

Soggens vlieg Trekduikers see toe om vis te vang. Soos hul naam aandui, trek hulle see toe en duik van ongeveer 20 meter hoog die water binne om hul prooi te vang. Hulle jag op ‘n goed gekoördineerde wyse deur saam te werk.

Voëls wat op die water dryf, dwing skole vis nader aan die oppervlak, terwyl dié in die lug tussen die visse induik. Hulle benut ook dikwels die werk van dolfyne, pikkewyne en walvisse wat skole vis bymekaar dryf.

KYK: Duisende trekduikers vlieg oor Bergrivier


Hul vere is aangepas om doeltreffend onder water te swem en vis te vang. Trekduikers kan sowat drie minute lank hul asem onder water ophou, hoewel ‘n gewone duik tussen 40 en 70 sekondes duur. Teen sononder keer hulle terug na hul rusplekke by die Bergriviermond.

Die Bergriviermond is ‘n belangrike broeigebied vir verskeie visspesies en bied gedurende die winter ‘n volop voedselbron. Dit verklaar waarom Trekduikers in dié seisoen in groter getalle in die gebied voorkom.

Gedurende die somer verhuis hulle na eilande langs die Weskus om te broei. Jutten-eiland is een van hul belangrikste broeiplekke. Hulle maak neste in kolonies, wat beter beskerming aan hul kuikens bied. Trekduikers begin broei wanneer hulle tussen twee en drie jaar oud is. Ongeveer 44% van kuikens oorleef hul eerste jaar, waarna die oorlewingsyfer tot 84 persent styg.

Duisende Trekduikers wat elke oggend en laatmiddag oor die Bergrivier vlieg, is een van Velddrif se bekendste natuurskouspele. Kenners sê die indrukwekkende verskynsel hou direk verband met die voëls se daaglikse soektog na kos, hul rusplekke en die unieke habitat van die Bergriviermond.

Volgens BirdLife South Africa is die groot getalle Trekduikers nie noodwendig ‘n aanduiding van ‘n gesonde habitat nie. Die voëls kom in groot getalle by die Bergrivier voor omdat die mensgemaakte soutpanne een van die min geskikte rus en oornagplekke is wat nog oorbly.

BirdLife South Africa doen navorsing oor die getalle en oornaggedrag van Trekduikers by die Bergriviermond. Lugopnames met ‘n hommeltuig word gebruik om die getalle te bepaal en hul gedrag te monitor. Aanvanklike bevindings dui daarop dat die voëls in pare oornag en elke aand na dieselfde rusplek terugkeer.

Trekduikers rus op die oorblyfsels van 'n ou aanleg in die see voor Laaiplek.
Trekduikers rus op die oorblyfsels van ‘n ou aanleg in die see voor Laaiplek. Die foto is vanaf die strand voor Zeezicht geneem.

Die navorsing word aangevul deur die gekoördineerde watervoëltellings wat twee keer per jaar gedurende die winter en somer met die hulp van vrywilligers gedoen word. Tydens die wintertelling in 2024 is sowat 70 000 Trekduikers by die Bergriviermond aangeteken.

Nog ‘n interessante verskynsel is die voëls se vlugpatroon. Windspoed, windrigting en die temperatuur van die rivierwater beïnvloed hoe hoog hulle oor die rivier vlieg. Hulle volg die loop van die rivier soggens en laatmiddag en kan soms in digte mis hul rigting effens verloor.

Hoewel Trekduikers in groot getalle voorkom waar toestande gunstig is, word die spesie steeds bedreig deur voëlgriep en voedseltekorte. In 2017 en 2023 het die bevolking by die Bergrivier skerp afgeneem weens uitbrekings van voëlgriep. In die vroeë 1970’s het meer as een miljoen Trekduikers in Namibië gevrek nadat sardientjies skaars geword het.

Die Trekduiker bevolking by die Bergrivier is van besondere belang omdat dit een van die grootste bevolkings van dié spesie in Suider Afrika verteenwoordig.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 6 August 2026
    Weslander E-Edition – 6 August 2026

Gift this article