VELDDRIF – CapeNature het brandbestryders, veldwagters en rolspelers op Dinsdag 4 Augustus vereer vir hul toewyding, opoffering en vennootskap tydens een van die Wes-Kaap se moeilikste brandseisoene.
“Nie alle helde dra mantels nie,” was die boodskap tydens CapeNature se waarderingsgeleentheid vir brandbestryders en veldwagters wat op 4 Augustus gehou is.
Die geleentheid het hulde gebring aan die manne en vroue wat gedurende die afgelope brandseisoen aan die voorpunt gestaan het om gemeenskappe, infrastruktuur en die Wes-Kaap se unieke biodiversiteit te beskerm. Die geleentheid het ook erkenning gegee aan Internasionale Brandbestrydersdag wat jaarliks op 4 Mei gevier word, asook Wêreldveldwagterdag op 31 Julie.

Verteenwoordigers van CapeNature se groter span veldwagters en brandbestryders het die geleentheid bygewoon saam met die talle organisasies wat deur vennootskap en samewerking gehelp het om veldbrande te bestry.
Plaaslike munisipaliteite, die Stad Kaapstad, die Provinsiale Rampbestuursentrum, Working on Fire, Brandbeskermingsverenigings, vrywilligers en private grondeienaars is onder die rolspelers wat vir hul bydrae bedank is.
Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, het gesê brandbestryding is een van die mees veeleisende beroepe denkbaar. Hy het die brandbestryders bedank vir hul professionaliteit, moed en die opoffering wat hulle en hul families maak.
“Ons moet ook die families onthou wat hierdie brandbestryders ondersteun. Hulle dra dikwels saam die las van lang afwesighede en die onsekerheid wanneer hul geliefdes in gevaarlike omstandighede werk,” het hy gesê.

CapeNature se uitvoerende hoof, dr. Ashley Naidoo, het beklemtoon dat waardering nooit afgeskeep moet word nie. “Moet nooit vergeet om mekaar te waardeer nie. Waardeer jou kollegas en elke rolspeler wat deel vorm van die groter prentjie om brande te beheer,” het hy gesê.
Naidoo het ook minister Bredell bedank vir sy ondersteuning en gesê CapeNature en sy brandbestryders is vandag aansienlik beter voorbereid as vyf jaar gelede.
Volgens hom toon langtermyn-ontledings dat die aantal veldbrande steeds toeneem en dat die gemiddelde oppervlakte wat per brand afbrand oor die afgelope twintig jaar meer as verdubbel het.
Hy het die belangrikheid van opleiding beklemtoon en gesê dit is juis die deeglike voorbereiding wat die verskil maak wanneer brandbestryders hulself in lewensgevaarlike situasies bevind.
“Die dag wanneer jy in ‘n werklike vuur staan, is dit jou opleiding wat oorneem.”
Die 2025 tot 2026 brandseisoen het reeds in die lente met 35 brande begin voordat die Cederberg-wildernisgebied deur sy grootste veldbrand sedert 1997 getref is. Sowat 53 310 hektaar, of 75 persent van die reservaat, het afgebrand. Nog twee groot brande in Januarie het 33 719 hektaar in die Paarl, Franschhoek en Jonkershoek gebiede verwoes.
Altesaam het CapeNature op 107 veldbrandvoorvalle gereageer, waartydens 215 936 hektaar afgebrand het.

Ethan le Fleur, wat sy eerste diensjaar as brandbestryder gevier het, het vertel hoe sy eerste groot ervaring tydens die Cederberg brande hom diep geraak het.
“‘n Brand wat onder beheer lyk, kan binne oomblikke met ‘n verandering in die wind weer opvlam. Jy is uitgeput, maar jy hou aan omdat jou span, gemeenskappe en die landskappe wat ons beskerm op jou staatmaak,” het hy gesê.
Hy het getuig dat die werk baie vra op fisiese en emosionele vlak, maar dat die passie vir biodiversiteit en die beskerming van mense en die natuur hulle dryf om aan te hou.
Die geleentheid het opnuut beklemtoon dat suksesvolle brandbestryding nie deur individue alleen bereik word nie, maar deur toewyding, deeglike opleiding, sterk vennootskappe en die onwrikbare ondersteuning van families wat elke dag die opoffering saam met hul geliefdes dra.’
CapeNature het ook sy vennote, waaronder munisipaliteite, Working on Fire, brandbeskermingsverenigings, rampbestuurspanne en grondeienaars, bedank vir hul ondersteuning gedurende die seisoen.
Nog fotos van die geleentheid:






You must be logged in to post a comment.